Oortreder se welstand weeg die minste
2013-01-28 08:36
Ek het aan die einde van verlede jaar vir die eerste keer kans gesien om Die Staat Teen Anna Bruwer, die opvolg van Dis ek, Anna te lees.
As jy al een van hierdie twee boeke gelees het, weet jy dat beide dié boeke handel oor die seksuele molestering van kinders.
Ek het nog nooit so erg gesukkel om ‘n boek klaar te lees nie. Van die begin af was ek gewalg deur Anna se pa, wat geen berou oor sy dade het nie, haar ma wat weereens die rol van die magtelose toeskouer speel en die regstelsel wat meer oor die oortreder se rehabilitering as oor die slagoffer se trauma omgee.
Nou is die Kaap se eie weergawe van Anna se storie besig om in die Parow-streekshof af te speel.
Die vark in ons verhaal is Johannes Kleinhans, ’n 74-jarige sakeman van Parow. Hy is op 95 aanklagte, wat die onwettige besit van kinderpornografie en seksuele aanranding insluit, skuldig bevind. Die skokkende deel van die storie is egter nie die feit dat hy dus meer as een misdaad vir elke lewensjaar gepleeg het nie, maar die nuutste verwikkeling in sy hofsaak.
Volgens ’n kliniese maatskaplike werker wat Kleinhans vyf keer gekonsulteer het, sal sy rehabilitering nie "doeltreffend" in ’n tronk kan plaasvind nie. In die verslag wat sy aan die hof voorgelê het, erken sy egter dat Kleinhans ’n middelkategorie-pedofiel is wat moontlik weer kan oortree.
Die hele debakel het my opnuut laat wonder: Wie word nou eintlik hier beskerm? Die oortreder of die slagoffer?
Die lyk vir my asof die grootste prioriteit hier die rehabilitering van ’n pedofiel is, in plaas van reg en geregtigheid. Nog ’n groter prioriteit, volgens my, is dat hierdie misdadiger, wat al ’n gevaar vir die samelewing was en weer kan wees, nie die kans gegee moet word om weer te oortree nie.
Die maatskaplike werker het verder gesê die rehabiliteringsprogram sou plaasvind by ’n sentrum waar die hof sy vordering kan monitor. By só 'n sentrum kan 24-uur-toesig egter nie verskaf word nie.
Ek kan my net indink watter trauma die slagoffers van seksuele molestering deurgaan – en ek kan ook nie dink dat hierdie trauma behandel kan word as die moontlikheid bestaan dat die aanvaller weer dieselfde misdade kan pleeg nie.
In verskeie ander lande in Afrika is kinders die slagoffers van ewe onaanvaarbare seksuele misbruike. In Nigerië dagvaar mans gereeld hul skoonouers as hul 13-jarige bruide weier om seks met hulle te hê. In Morokko kan mans wat ’n minderjarige verkrag het, tronkstraf vermy deur met die slagoffer te trou. Laasgenoemde wet is op die oomblik in die kollig in dié land, en ek hoop van harte die vroue van Morokko slaag daarin om dié bepaling geskrap te kry.
In ons eie land is die situasie nie veel beter nie. Ek kan onthou dat ’n man onlangs ’n dogtertjie met ’n lewendige slang verkrag het. Misdade van dié siek aard moet voorkom word. Dié situasie gaan egter nie verbeter as ons meer bekommerd is oor misdadigers se welstand nie.
Stuur jou kommentaar aan Michelle
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.