Nuwe bestel se edele ideale lank vergete
2012-11-27 09:42
Voorgeskrewe boeke het selde ’n spesiale plekkie in leerders se hart.
Hulle is gewoonlik vervelig en meer as 20 jaar oud. Boonop kan ’n mens ook net ’n beperkte hoeveelheid genot put uit iets wat jy gedwing word om te lees. Tog word daar nou en dan ’n boek op jou afgedwing wat jou die res van jou lewe bybly.
Een van my voorgeskrewe boeke op skool was George Orwell se Animal Farm, ’n boek wat aan die meeste van ons bekend moet wees.
Ek het toe ons die boek behandel het, reeds die geskiedkundige konteks verstaan aangesien ek Geskiedenis as vak gehad het.
Dit is verbasend hoe maklik ’n mens parallelle tussen dié boek en die hedendaagse verwikkelinge in ons land kan trek.
Ek voel ek moet, vóór ek enige vergelykings maak, duidelik sê dat ek nie sê ons regeerders is varke soos die leiers in die boek nie. Die regering se optrede spreek vanself en elkeen kan tot sy eie gevolgtrekkings daaroor kom.
Ons land se moderne geskiedenis begin by dieselfde somber vertrekpunt as dié boek. ’n Leier wat sy volgelinge hoop op ’n beter toekoms gee. ’n Nuwe bestel met edele ideale en drome van gelykheid wat verwek word en deur middel van ’n opstand die ou, onderdrukkende regime vervang. En dan die teleurstellende werklikheid as gemeenskaplike vooruitgang deur selfsugtige gierigheid vervang word.
Die rede waarom Animal Farm die laaste tyd by my spook, is die onmiskenbare revolusionêre klimaat wat soos ’n donker wolk oor ons land hang. ’n Wolk wat gereed is om te bars omdat dieselfde mense wat onder die ou regering gely het, voel hulle wag steeds op die rykdom en welvaart wat die nuwe regering aan hulle beloof het.
Almal het nie droëbek gebly toe ons land ’n demokrasie geword het nie. Ek het reeds in ’n vorige rubriek geskryf dat regeerders nie ’n tekort aan geld, motors óf klere het nie. Dit kan egter weer beklemtoon word dat hulle aanhou om hierdie weelde te geniet terwyl hulle die ontevrede massas se lot op rassisme of apartheid blameer. En hoekom dan nou nie? Hulle het immers, volgens hulself, die land uit die kloue van minderheids-oorheersing gered en verdien om ’n bietjie bederf te word.
Soos die varkies in Animal Farm, het die regering ’n wenresep wat verseker dat hulle die massas onder hul duim kan hou. Solank mense oningelig is, is dit maklik om hulle te laat glo wat jy wil hê hulle moet glo. Jy kan hulle laat glo dat dit die boer, wat natuurlik by apartheid gebaat het en nou in die aande op ’n hoop geld rondrol, se skuld is dat hulle nie genoeg verdien nie. Sodoende bly die ministers veilig in hul reuse-huise terwyl etlike plase afgebrand word.
Gelykheid, eens een van die grootste drome vir die nuwe Suid-Afrika, is deesdae die laaste ding op die prioriteitslysie. Orwell bewoord die skeiding wat tussen die varke en die res van die diere op die plaas ontstaan so: “All animals are equal. But some animals are more equal than others.” ’n Gepaste manier om te verduidelik waarom net sommige uitverkorenes se sakke vol gestop word.
Die laaste toneel in die boek is die een wat vir my die meeste simboliese waarde het. Die varke sit in die plaaseienaar se huis en speel kaart saam met mense, die groep in die boek wat die onderdrukkers verteenwoordig. Die ander plaasdiere, wat buite die varke se huis deur die venster staan en loer, kan nie onderskei tussen die varke en die mense nie.
Ons regering het dit geword waarteen hulle eens op ’n tyd baklei het. Gewone mense word onderdruk. Die staatskas word beskou as 'n persoonlike bankrekening. Eie behoeftes, en dié van hulle makkers, word eers bevredig voor hulle aan die res van die land dink. En wanneer ontevredenheid na vore kom, vind hulle blitsvinnig iemand om hul mislukkings en misdade op te blameer.
Die verwarde plaasdiere in Animal Farm het ’n vark gevolg sonder om vrae te vra. Hopelik kan ons bewys dat ons meer breinselle as ’n plaasdier het deur nie blindelings te volg nie, maar aan te dring op verantwoordbaarheid van ons leiers.
– Michelle van der Spuy is 'n inhoudsvervaardiger vir News24 Nigeria.
Stuur jou kommentaar aan Michelle
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.