Goue handdruk skep gevaarlike presedent
2012-10-15 08:16
Sedert die land in die middel van Augustus deur ’n plaag van stakings getref is, was ek nooit direk daardeur geraak nie.
Ek neem elke dag ’n trein stad toe, so ek het nooit in verkeersknope vasgesit of verby uitgebrande trokke gery nie. Gelukkig bly ek ook in die Kaap, so ek was so ver weg van ’n kwaai mynwerker se panga soos wat ’n mens moontlik kan wees.
My gekkeparadys is Sondag so 'n bietjie bederf. Toe ek deur Pick n Pay stap om ’n paar goedjies vir die week te koop, het die gate in die rakke soos ’n glimlag met net ses tande vir my teruggestaar.
Kort-kort het ek afgekom op ’n oop spasie op ’n rak waar daar sjampoe of brood moes wees. Nadat ek vir 10 minute rondgedwaal het en gewonder het waarheen al die kruideniersware skielik is, het ek die kloutjie by die oor gebring: Die vragmotors wat die goed kom aflewer se bestuurders het mos nou ook op die staakwa gespring.
Sedert die uitbreek van die Lonmin-onmin het stakings soos ’n siekte deur ons land versprei en in ’n bykanse epidemie ontaard. Die sweer wat in Marikana sy lelike kop uitgesteek het, was maar ’n voorsmakie van die chaos wat teen Oktober sou heers.
Ek het gelag toe ek sien die mynwerkers dring op ’n 12% salarisverhoging aan, aangesien dit sou beteken dat hulle meer as meeste onderwysers met tersiêre opleiding betaal sou word. Ek het gedink dat die mynbestuur nie vir ’n klomp kwaadstokers wat hulle soos barbare gedra hul sin sou gee nie. Ek was verkeerd.
Die regering mag dalk vir ’n oomblik hul vuis vir die stakende myners gebal het, maar die vuis het uiteindelik in ’n goue handdruk van die mynbestuur ontaard. Die mynwerkers, wat soos stout kinders met ’n behoefte aan ’n goeie pak slae tekere gegaan het, het toe eerder ’n suigstokkie in die vorm van ’n R12 000 salaris gekry.
Nou is die partytjie éérs in volle swang.
Danksy die mynwerkers is ’n gevaarlike presedent geskep: As jy ontevrede is met jou salaris is, is geweld nie meer die laaste uitweg nie. Dit is nou die eerste. Die vragmotorbestuurders het dieselfde paadjie as die mynwerkers gevolg en besluit dat hulle ook ’n 12% salarisverhoging verdien.
Die klimaat wat nou om salarisonderhandelinge geskep word is niks nuuts nie. Nog vóór ons land in 1994 as ’n demokrasie gedoop is, het geweld tydens die ou en nuwe bedelings se samesprekings gedreig om die onderhandelinge omver te werp. Dit wil vir my voorkom of geweld in 2012, meer as 20 jaar ná die einde van apartheid, so deel van Suid-Afrikaanse kultuur soos pap en wors geword het. Pap en wors wat ons dalk binnekort gaan sukkel om in die winkels te kry…
Onderhandelinge sloer te lank vir omgekrapte werkers. As dinge nie vinnig genoeg gebeur nie, word asblikke in strate omgegooi tydens rustiger stakings en eiendom vernietig tydens normale stakings.
Die jongste rits stakings het dit ’n stappie verder geneem. Behalwe vir die voorspelling dat die ekonomie vir die volgende twee jaar, of selfs langer, in die moeilikheid gaan wees en stakings wat vinniger as ’n veldbrand na ander sektore versprei, moes sommige mense met hul lewens betaal sodat ander terug werk toe gelok kon word met ’n buitensporige salaris.
Ek moet seker dankbaar wees dat die grootste ongerief wat hierdie stakings vir my veroorsaak het, half-leë rakke in Pick n Pay is en nie die verlies van een van my geliefdes nie.
– Michelle van der Spuy is 'n inhoudsvervaardiger vir News24 Nigeria.
Stuur jou kommentaar aan Michelle
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.