Bodemlose onderwys-put sluk ál meer geld
2013-03-07 09:00
’n Goeie onderwysstelsel lê die grondslag vir ’n suksesvolle samelewing. ’n Gebrek daaraan kan egter ’n land op sy knieë dwing – en dis waarskynlik regverdig om te sê Suid-Afrika is al 'n ruk lank in dié posisie.
Onderwys behoort volgens ’n redelike eenvoudige resep plaas te vind. Kinders gaan in die oggend skool toe. Juffrou leer kinders om te lees, skryf en somme te doen. Kinders gaan in die middag huis toe, doen hul huiswerk en die volgende dag word die proses herhaal. As dit maar net so maklik was.
Die werklikheid is baie meer gekompliseerd. Kinders sukkel om in die oggend by die skool te kom omdat hulle kilometers soontoe moet stap of omdat die openbare vervoerstelsel hulle in die steek gelaat het. By die skool aangekom, is die klasse oorvol en die onderwysers (indien hulle sou besluit om op te daag) nie opgewasse om soveel kinders te onderrig nie. Huiswerk is ’n onmoontlike uitdaging, want na die dag in ’n onbekwame onderwyser se geselskap deurgebring is, is ma of pa nie in staat om te help nie.
En die regering se oplossing? Gooi net nog meer geld in die bodemlose put wat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel geword het.
Een van my ekonomie dosente, prof. Servaas van der Berg, het tydens ’n lesing toe ek nog ’n sorgvrye student was aan ons verduidelik dat dit 'n duistere saak is wat met al dié geld vir onderwys gebeur. Besteding is vir alle praktiese doeleindes heeltemal ondeursigtig. Volgens enige ekonomiese model behoort meer befondsing te lei tot beter uitkomste, maar dit gebeur eenvoudig nie.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het immers nou die dag aangekondig dat R232,5 miljard – amper ’n kwart van die land se totale begroting – in die volgende boekjaar op onderwys bestee gaan word. Dus word die probleem weereens hierdie jaar getakel deur die gate met geld te probeer toestop.
Wanneer 'n toename in besteding nie meer ’n verbetering teweeg bring nie, is die logiese volgende stap om te kyk na hoe die geld spandeer word. En hoe word daardie geldjies nie spandeer nie! Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, en haar kollegas hou gereeld klaspartytjie en lewe in weelde met geld wat gebruik moet word om die onderwyswa uit die spreekwoordelike modder te trek. ’n Mens kan haar seker nie kwalik neem nie – dit is tog hoe dit in meeste departemente gaan.
Dis ’n onbetwisbare feit dat die gehalte van onderwys in Suid-Afrika veel te wense laat. Onderwysers het nie die nodige infrastruktuur of toerusting om hulle goed van hul taak te kwyt nie. Klasse loop oor, met meer as 40 leerders en een moedelose onderwyser wat hulle moet probeer opvoed. Geen wonder dat onderwysers in Suid-Afrika verlede jaar altesaam 7,5 miljoen dae afwesig was nie. Dis ’n skokkende syfer waarvoor daar geen verskoning is nie, maar enigiemand sou seker keelvol raak vir die daaglikse gesukkel.
In ons land het elkeen die reg tot opvoeding, maar die meeste kinders sal nooit ’n goeie opvoeding ontvang nie omdat dit slegs beskore is vir mense wat kan bekostig om hul kinders in privaatskole te sit of ten minste ’n stewige skoolfonds kan betaal. Só bly die een middel wat gebruik kon word om die massas se lewensgehalte te verbeter dus ’n voorreg wat slegs vir die hoër middelklas en elite gegun word.
Die ironie is dat die resep wat die regering behoort te volg nie so moeilik is soos wat dit voorkom nie. Moenie net meer geld spandeer nie: spandeer dit wyser. Fokus op die kwessies wat die meeste aandag behoort te geniet. Raak ontslae van die mense wat die probleem vererger en stel mense wat hulle gaan oplos aan. Hanteer onderwys wat gereeld as ’n “prioriteit” bestempel word, soos iets wat regtig na aan ons elkeen se harte lê.
Sit dit sommer heel bo aan die prioriteitslysie.
Stuur jou kommentaar aan Michelle
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.