Naked chef se onderrok hang nooit uit nie
2012-02-06 07:45
My vriende is onder die wanindruk dat ek ’n goeie kok is. Of dalk is ek onder ’n wanindruk dat my vriende dink dat ek ’n goeie kok is.
Hoe dit ook al sy, hulle eet meestal smaaklik aan dit wat ek voorsit en neem soms ’n tweede porsie. Dalk het hulle net baie goeie maniere.
Die geheim is natuurlik om ’n paar disse te bemeester en mense nie so gereeld te nooi dat hulle dit onthou nie. Dan is daar ’n paar ander truuks, soos om jou eie bak na ’n restaurant te neem en hulle te vra om ’n gereg daarin voor te berei – iets wat ek natuurlik nooit sal doen nie, maar daar is glo mense wat hierdie roete volg.
Ek is een van daai kokke wat die kos gaar kyk. Teen die tyd dat daar geëet word, hang my hare in slierte, ’n halwe tamatie sit op my wang en ek is knuppeldik geproe.
’n Natuurlike goeie kok gooi ’n paar bestanddele in ’n pot, kuier ontspanne saam met haar gaste en gaan soek nie by ’n kwekery na ’n bouquet garni nie.
Sy loer net so af en toe in die pot, gooi ’n skeutjie van dit en ’n leksel van daai by, en voilà. Haar resepteboeke is nie vol blertse nie en dit lyk nie asof daar ’n stuk dinamiet in haar kombuis ontplof het nie. Sy krap ook nie drie dae later nog knoffel onder haar naels uit nie.
So lief as wat ek vir kos is, so min hou ek van TV-kookprogramme. Ek skeur gedurig resepte uit koerante en tydskrifte om dit meestal in ’n boks te prop wat eendag (waarskynlik in ’n aftree-oord) netjies geliasseer sal word. Maar om te kyk hoe Nigella of Jamie met geen inspanning nog ’n treffer saamslaan... nee dankie.
Wat uiteet betref, stem ek heeltemal saam met die Britse kosresensent Michael Winner: Die kos van vandag is oorskat en pretensieus. Te danke aan nuwerwetse gebruike soos die vrieskas, insekdoder en wetenskaplik verbeterde groeimetodes smaak wortels nie meer na wortels nie.
Die gereg wat op die spyskaart beskryf word, is selde die kos in jou bord. En wanneer die sap as vars beskryf word, beteken dit kunsmatige, verdunde sap is vanoggend in ’n plastiekhouer by die restaurant afgelaai.
Daar was ook ’n tyd toe die kok ’n lekker dik tannie met ’n snor was wat haar resepte by haar ma geleer het, nie ’n temperamentele sjef wat iewers in Frankryk geleer het hoe om ’n padda te slag nie.
Ten minste het ek nog nooit ’n pot blou sop à la Bridget Jones aan my gaste voorgesit nie. Never say never, want die afgelope vakansie het moi ’n paar gastronomiese gatslae beleef wat selfs Bridget in die skadu stel.
Op my nuwe voorstoep aan my nuwe tafel sit my geliefde ou vriende en oe en aa oor die pragtige uitsig. Hulle smul alte lekker aan die uie-en-gorgonzola-tert-voorgereg en ontken dat die biefstuk met mosterdsous net ’n rapsie te lank in die oond was. Het ek sowaar my inner Nigella ontdek?
Waarop hulle nie voorbereid was nie, was my salmpienk nagereg. Om die een of ander rede lyk dit net nie reg nie, maak nie saak hoe smaaklik dit was nie. Salmpienk werk in ’n sonsondergang, nie in poeding nie.
Nou maar goed. Vir Oujaarsaand sal ek hulle betower met ’n koekstruif wat die voorsitster van die VLV sal uitboul. Tog vreemd hoe iets so eenvoudig so dramaties verkeerd kan loop. Al ooit probeer om jellie te skep wat net so effens tussen styf en waterig is? Moet liewer nie.
Gooi vlapoeier saam met twee eetlepels melk en suiker na smaak. Dit beteken tog seker: Gooi die hele boksie vlapoeier. Meteens is daar ’n kilogram stywe, oranje toffie in die pot. Twee liter melk later is daar genoeg vla om ’n swembad mee te vul.
Kan iemand vir my sê hoekom jy nie room kan vries nie? Jy klits en klits tot net duskant ’n tenniselmboog, maar die room weier volstrek om styf te word.
Dit was helaas nie die koekstruif waarmee ’n jong boervrou haar skoonma sou beïndruk nie, maar dit was presies wat die dokter bestel het vir ’n Nuwejaarsoggend se kloppende vonkelwynkop. Om te eet natuurlik, nie aan te smeer nie!
– Oorspronklik verskyn in Rapport.
Stuur jou kommentaar aan Maretta
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.