Ag man, jou ma se vuvuzela
2010-07-12 07:55
Moenie vir my vra watter aand dit was nie, want ek het in ’n stadium nog probeer tred hou met Chili wat teen Honduras speel en Amerika teen suid-oos-wes-Korea en Celtic Swallows teen Botswana, maar ná die eerste week reeds handdoek ingegooi.
En as iemand in die verbygaan vra wie speel, sê ek maar so oortuigend moontlik: “Ek weet nie.” Maar hoop hulle doen dit vinnig, want ek moet by die huis kom.
Huis is ongelukkig net anderkant die Groenpunt-stadion en om nie in ’n verkeersknoop van epiese afmetings vasgevang te word nie, moet jy jou rytye baie noukeurig beplan.
Maar terug na die aand onder bespreking. Ek dink dit was Engeland teen iemand, want iewers op ’n sypaadjie het ’n ou met groot oortuiging God Save the Queen gesing.
Soos baie van ons het ek tot en met die Wêreldbeker nog nooit na een hele sokkerwedstryd gekyk nie. En stem heelhartig saam met Mannetjies Roux wat sê al wat gebeur, is hulle skop die bal op en af, op en af, en soms uit. En, is my persoonlike ervaring, sodra jy uit pure verveling gaan kyk wat in die yskas is, skop iemand ’n doel.
Dat daar ’n paar aanvallige manne met netjiese bene aan die spel deelneem, maak dit ietwat meer aanskoulik. Net jammer ek het ten minste twee wedstryde van Brasilië deurgewurg met die hoop dat ek iewers die Ronaldo-mannetjie sal teëkom, om later by iemand te hoor hy speel vir Portugal.
Nog iets wat my effens verwar het, was die afwesigheid van Suid-Afrika se enigste wit speler. Voor die toernooi was dit net Matthew Booth oral waar jy kyk, maar hy was nêrens op die veld te siene nie. En ek sê nog as hulle vir Caster Semenya by die agterdeur ingeglip het, het Bafana Bafana dalk baie beter gevaar.
Maar, o ja, die aand. Van laatmiddag af reeds het die vuvuzelas deur die strate weerklink.
Dis nou een geluid wat deur murg en been sny en ek is bevrees daar is net nie genoeg oerwoud in my nie. Soms klink dit vir my soos een moerse groot brommer, en dan weer na ’n koei wat haar bulk verloor het.
Ek het verskeie kere tydens die toernooi van Seepunt af stad toe geloop en terug. ’n Goeie uur se stap een rigting, maar in goeie weer ’n heel genotvolle ervaring. Behalwe wanneer ’n sokkeraanhanger skielik met ’n vuvu lostrek en jy vir ’n oomblik wonder of iemand jou met ’n kettingsaag bestorm.
In die venster van ’n apteek in Groenpunt is daar ’n reuse-advertensie: Earplugs for sale. En hulle het gedink hulle grootste verkoper gaan kondome wees. Blykbaar is die aanvraag na prostitute veel minder as wat daar verwag is, maar wie het nou seks nodig as ’n man sy eie trompet kan blaas, vra ek.
Andersins is ek soos miljoene ander meegesleur deur die gees wat oor ons land gespoel het. Die middag met die amptelike opening het ek heerlik ’n paar trane van trots gestort en toe ’n groep vriendelike Mexikane my een aand in die straat voorkeer om te verneem waar ’n goeie eetplek is, was ek sommer lus en gee elkeen ’n klapsoen.
Selfs Billy die worshond geniet die hele spektakel. Hy het sy sokkerbal flenters gekou en bestorm elke mooi vroue-toeris op die promenade, gooi homself aan haar voete en loop nie voor sy hom in haar unieke aksent beskryf as die sweetest doggy wat sy nog gesien het nie.
Maar ek wou nog vertel van die aand toe Engeland teen iemand gespeel het en ek heel toevallig ’n voorval aanskou het wat, om die minste te sê, uiters ontstellend was. ’n Vrou wat ek vermoed op pad huis toe was, het haar waarskynlik misgis met die verkeer en te laat besef haar gewone rit van 15 minute gaan vanaand, as sy gelukkig is, twee uur duur.
Nadat haar voertuig skaars 50 meter in ’n halfuur beweeg het, kon jy duidelik sien die arme mens verloor dit. Dit het gelyk asof sy haar stuurwiel byt, die paneelbord met die vuiste bydam en toe gryp sy die vlag in haar venster en skeur dit met haar tande.
Toe ’n polisieman haar probeer kalmeer, skreeu sy vir hom: “Ag man, jou ma se vuvuzela!”
Ek het toe maar vir my nog ’n vlaggie gekoop, maar ’n kleiner enetjie. Net ingeval ek hom weer moet eet.
– Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Maretta
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.