'n Goeie oog is goud werd in dié bedryf
2012-09-05 07:50
Met die afneem in kamerakostes en die vermoë om foto's met programme op jou selfoon te laat lyk asof dit met 'n professionele kamera geneem is, dink almal deesdae hulle is 'n professionele fotograaf.
My pad as professionele fotograaf het begin toe ek en my vrou in 2010 'n fotograaf vir ons troue gesoek het. Ons kon omtrent nêrens regkom vir minder as R12 000 nie. As iemand wat lankal 'n passie vir fotografie gehad het, was dit vir my besonders moeilik aangesien ek gevoel het nie een van dié ouens se foto's staan regtig uit nie – almal van hulle het maar dieselfde vervelige, generiese voorkoms gehad.
Ek het net gevoel dat as ek foto's soos hulle geneem het, ek nie eerlik met myself en my kliënte sou kon wees as ek die helfte gevra het van wat mense hulle dienste voor adverteer nie.
Na al die gesoek en frustrasie verwys vriende ons toe na Make Believe Media, wat ons dag ongelooflik spesiaal vasgevang het, sonder om ons 'n plaas se prys te vra. Jurgens van Make Believe Media is darem ook 'n lekker ou – so dit het amper gevoel asof hy maar net die dag saam met ons gekuier het, eerder as om 'n spektakel van dié foto-nemery te maak.
Soos 'n slegte seremoniemeester probeer party fotograwe mos die kollig by die bruid en bruidegom steel. Die beter troufotograwe is só goed dat 'n mens amper nie eers weet hulle is daar nie.
Ná die honeymoon en terug op kantoor het ek toe uiteindelik die geleentheid gekry om my stokperdjie in 'n bietjie ekstra geld te omskep. Boonop was dit sommer 'n kreatiewe uitlaatklep. Wanneer ek foto's neem of verwerk voel dit nooit asof ek werk nie – dit voel asof ek besig is om te speel.
Ek doen meestal korporatiewe werk, sport- en kinderfotografie; maar die lekkerste bly steeds om die onbekende te ontdek en foto's te neem van nuwe plekke, kulture en mense sonder dat enige geld ter sprake is.
Een ding wat ek wel deesdae meer as ooit besef is dat die plaaslike mark versadig is met 'n spul troufotograwe wat meestal, in my opinie, hoogstens gemiddeld is.
Mense dink omdat hulle 'n logo het en "oulike" raampies om hulle foto's sit, hulle 'n fortuin gaan maak uit fotografie.
Die waarheid is egter dat 'n goeie oog, jare se ondervinding en baie, baie harde werk gekombineerd met natuurlike talent die enigste eienskappe van 'n goeie fotograaf is. En selfs dán is dit nie 'n pot vol goud nie.
Jy kan vir iemand net tot op 'n punt van komposisie en die gebruik van lig leer. Soos in die meeste goed in die lewe is daar mense met 'n gawe en natuurlike talent vir 'n ding – en dít is meer werd as die beste toerusting in die wêreld.
Daar is darem 'n klomp baie begaafde en talentvolle ouens daar buite, maar jy moet mooi weet waar om te soek, aangesien die mark heeltemal versadig is met gemiddelde fotograwe.
Ek self het nog baie om te leer en voel dat ek in die laaste jaar meer geleer het as in die vorige vyf jaar saam. Ek weet ek moet ook nog baie groei voordat ek myself as 'n goeie fotograaf kan beskryf. Daar is darem geen haas nie.
Wanneer 'n mens na die beste fotograwe in die land kyk, sien jy waarom hulle dienste so duur is. Daar is goed wat hulle doen en maniere waarop hulle dinge vasvang waarvan 'n ou soos ek net kan droom. Dit is vir hierdie soort ouens letterlik 'n kunswerk en nie net 'n werk nie.
Wat wel waar is, is dat daar by die dag al hoe meer fotograwe daar buite is wat met hulle 600D's en hulle iPhones dink hulle kan vra wat 'n Jaco le Roux of 'n Jules Morgan doen.
Met die oorvloed fotograwe en sonder iemand om jou te lei in jou besluite op 'n troufotograaf is dit dus maklik om te sien waarom mense ingee en dink dat dit normaal of okay is dat jou troufotograaf jou sak ruk. Dis jammer dat een van die dinge wat veronderstel is om die vreugde van jou troudag vas te vang, een van jou grootste frustrasies en duurste uitgawes word.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.