Superrugby net die regte doepa
2013-02-27 08:32
Na 'n somer van bewondering en lof vir die Proteas se toetsspan is ek dankbaar dat die Superrugby-seisoen uiteindelik weer met ons is.
So lekker as wat dit is om te sien hoe die Proteas se toetsspan hul opponente links en regs voor hulle wegvee, moet ek erken dat ek al byna 'n versadigingspunt met krieket bereik het – en die terugkeer van Superrugby is net die regte doepa daarvoor. Afwisseling is 'n goeie ding!
Die eerste ronde van plaaslike wedstryde het vir baie opwinding gesorg met die Bulls en die Kings wat as die groot wenners na vore getree het.
Die Kings het natuurlik al hul kritici, insluitend myself, behoorlik stilgemaak met 'n oorwinning oor die Force in Port Elizabeth, wat beteken dat hulle nou bo-aan die Suid-Afrikaanse punteleer pryk. My eerste reaksie is om te dink dat dit nét die Force is, maar 'n span kan ook maar net die vyftiental klop teen wie hulle speel.
Dit sal interessant wees om te sien hoe hulle volgende naweek teen die Sharks vaar, wat definitief 'n baie moeiliker toets sal wees. Hulle oorwinning sou hulle ten minste baie selfvertroue gee, waarop hulle kan voortbou. Indien hulle 'n keer of wat sou verloor, sal ek graag wil sien hoe hulle reageer, en of hulle kan herstel.
Die groot wedstryd van die naweek het egter op Loftus plaasgevind. Dit was duidelik dat albei spanne nog besig was om hul voete te vind en ek is nie besonders oortuig deur die Bulls nie. Na 'n baie teleurstellende 2012 weet ek nie of daar genoeg gedoen is om die span weer op die regte pad te kry nie. Ongelukkig vir die Stormers was hul nuwe skopper minder van 'n Elton en meer van 'n Jantjie en het hy vir hulle op die heel minste 'n bonuspunt gekos.
Morné Steyn het ook nie sleg gevaar nie en as hy sy vorm behou deur die seisoen is daar seker 'n groot kans dat hy, ten spyte van die drama van laas seisoen, gekies sal word vir die Bokspan.
Ten minste het my grootste vrees vir die naweek nie waar geword nie – dat die Bulls voortaan voor elke wedstryd vir ons 'n liedjie sal sing. Ek is mal oor my span en wens hulle alle sukses toe, maar ek is nie so seker oor hulle sangvermoë nie.
Die Stormers gaan vir die volgende maand of wat sukkel sonder Eben Etzebeth. Etzebeth is ongetwyfeld die grootste vonds in Suid-Afrikaanse rugby in 2012 en laat 'n leemte wat nie maklik gevul gaan word nie.
Die Sharks en Cheetahs het self 'n lekker wedstryd opgelewer en dit is maklik om te sien waarom daar hierdie seisoen groot dinge van die Sharks verwag word – soos elke seisoen. Of hulle hierdie jaar egter aan daardie verwagtinge gaan voldoen is die groot vraag.
As daar een hartseer aspek van die naweek is, is dit die feit dat die Cheetahs die seisoen sonder Juan Smith moet aanpak ná hy sy tokse finaal opgehang het. As speler het hy ongelukkig sy laaste paar jare deur beserings verloor. Ten spyte daarvan het hy groot spore in die Springbokspan getrap en kan 'n mens hom net voorspoed en geluk toewens. Ek hoop dat hy egter nie vir die sport verlore is nie en dat hy betrokke sal raak by afrigting – en gou ook.
Noudat die seisoen afgeskop het vir ons spanne gaan die wedstryde volop en vinnig wees. Hopelik word die roes sommer gou afgeskud – dit sal nodig wees as ons wil hê 'n paar van ons spanne moet vanjaar om die trofee meeding.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.