Stop die Joost en Amor-encore
2012-08-08 08:08
As daar twee name in die media is wat my meer irriteer as Julius Malema, is dit Joost en Amor.
Joost het hierdie week weer vir groot opwinding in die plaaslike mediabedryf gesorg toe hy gesê het dat Amor nie kan wag dat hy sterf nie. Amor het daarna weer gesê dat sy nie op een van Joost se stellings gaan reageer nie.
Dit is nou dieselfde Amor wat in 'n tydskrif gepraat het, net om maande later weer in 'n tydskrif te sê dat sy spyt is dat sy in die eerste plek gepraat het... Huh?
Ek sê nie Joost is reg of Amor is reg of dat enigiemand verkeerd is nie. Ek ken hulle nie persoonlik nie. Ek sê net dat ek regtig nou genoeg gehad het.
'n Mens wens eintlik dat hulle aan die ANCYL kon behoort sodat hulle geskors kon word, met beeste kon gaan boer en ook op die reis van 'n leeftyd na Londen kon gaan.
Ek is nie hier om een van die twee te kritiseer of om kant te kies nie. Niemand is witter as wit nie. Amor self het al gesê dat almal foute maak.
As ek na reaksies op artikels oor die twee kyk is dit vir sommige mense kompleet asof Joost 'n skermunkel is en Amor die onskuldige afvlerk-eendjie. Ander mense sien dit nou net weer as die teenoorgestelde, maar daar is geen goue middeweg nie.
Kan 'n man nie in rus en vrede met sy siekte en al die gevolge daarvan vrede maak, weg van die glurende oog van die publiek nie? Kan 'n ma nie haar kinders en gesin beskerm teen enige verdere tyd in die kollig nie?
Die vraag is of dit Joost en Amor is wat die media met stories voer, of die media self, wat weet hul sepie verkoop tydskrifte en koerante en wat hulle dus doelbewus teiken vir sensasie?
Ek gee nie regtig om nie – ek wens net hulle stop al die stories. Asseblief tog!
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.