Standaard van populêre musiek die laagste ooit
2012-08-15 08:45
Ek luister nie baie radio nie.
Ek het al gedurende my universiteitsjare begin om my eie CD's te sny en te luister. Mettertyd het ek oorgeskuif na 'n iPod toe en ek het nooit teruggekyk nie.
Miskien was diegene wat in Pretoria grootgeword het uitermatig geseënd om te kon grootword met 'n radiostasie soos Radio Tuks. As 'n studente radiostasie sal dit altyd 'n anderste aanslag as die res hê.
Deesdae luister ek wel bietjie radio wanneer ek vir werk in Johannesburg of so is net om so bietjie op hoogte te bly en dalk hier en daar iets nuuts te hoor. Dit is nogals alles enorme bomskok as mens dit nie gewoond is nie.
Die probleem met die musiekbedryf begin seker by die enorme hoeveelheid kunstenaars en liedjies wat daar buite is en die 'weggooibare' natuur van liedjies wat vandag miljoene kere oor en oor gespeel word net om 'n maand later weer vergete te wees en vervang te word.
Wat kommersiële musiek betref is daar deesdae bitter min daarvan wat enigsins diep in jou hart inkruip.
Ek weet nie mooi watse afleiding of aksies vandag se "kunstenaars" van my verwag nie.
Dit voel vir my dat ek moet wil dans. Die heeltyd. As ek die radio aansit en nie voel asof ek in die middel van 'n club is nie dan is ek seker op Radio Pretoria of 702 ingeskakel.
Ek dink ook dat hulle vir ons probeer sê dat ons dom is. Hoeveel keer kan mens 'n woord direk na mekaar herhaal of eerder klomp geluide maak eerder as om verse uit te dink? Iemand soos Rihanna het vir haar 'n loopbaan uitgekerf deur om presies dít te doen.
Dan verstom dit my ook hoe seksbehep die ouens/ vrouens is. Lyk vir my dit is ook al wat in sommige van die koppies aangaan. Ek wonder wanneer kry hulle tyd om te eet of iets te doen soos tande borsel?
Natuurlik klink soveel van die goed so ongelooflik baie dieselfde. Vergelyk byvoorbeeld Nicky Minaj se Starships met Britney Spears se Till the World Ends. Wat het van plagiaat geword?
Laastens is daar so 'n groot tekort aan goeie melodieë. Net omdat 'n melodie rym of catchy is beteken nie dis goed nie. Van my gunsteling musiek is veelsydige liedjies met eenvoud en krag eerder as 'n oordondering van klanke en loslip-lirieke.
Vat 'n ou soos Pitbull. Ja, dit is seker die man se werk om catchy musiek te skryf, maar liewe aarde, ek hoef dit seker nie aan myself te doen nie?
Daar is darem paar ligpunte in die donker met kunstenaars soos Mumford and Sons, the Black Keys en Adele wat die vaandel van substansie in die oseaan van gemors omhoog hou.
Dit is seker 'n ding wat altyd gebeur – ons ouers meen dat die musiek wat ons 10-15 jaar terug geluister het nie so goed soos die van hulle kinderdae is nie en nou doen ek dieselfde en eendag sal my kinders seker ook so maak. As ek as 28-jarige so voel wil ek nie weet wat my ouers sou dink as hulle bietjie moes luister na vandag se treffers nie.
Ek dink wel dat die standaard van populêre musiek op die laagste is wat dit al ooit was en na my mening is die oorgrootte meerderheid van wat mens hoor eintlik so swak en oninspirerend dat ek bly is dat ek nie daarmee grootword nie.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.