Son kan gerus sak vir Twilight
2012-11-28 10:01
Die nuutste Twilight-fliek is onlangs in teaters wêreldwyd vrygestel.
Rekords het gespat en miljoene tieners en "jong volwassenes" het teaters toe gestroom om elke stukkie fantasie uit die film se are te suig.
As iemand wat grootgeword het met Narnia, The Hobbit en Lord of the Rings is ek goed vertroud met die fantasie-genre. Ek het elke Harry Potter-boek verslind, al het ek nie al die flieks gesien nie. Ek het ook moeite gedoen om die onlangse The Hunger Games te sien.
Twilight kom egter minder as 'n sage vir jong volwassenes voor en meer soos 'n sage vir jong onvolwassenes.
Ek moet eers toegee: ek het nie al die Twilight-flieks gesien nie. My kennis is beperk tot die eerste fliek, wat ek op televisie gekyk het, sowel as 'n uur of wat van Breaking Yawn, Deel 1.
Om die gapings in te vul het ek die boeke se volledige beskrywings op Wikipedia gelees. Die belaglike gedagte dat ek die boeke moet lees om vir my dieper insig en betekenis te gee is juis dit – belaglik. Selfs al lewe ek honderde jare en kry ek die geleentheid om na hartelus elke boek wat al ooit geskryf is te lees, sal ek nie my hande op die Twilight-boeke sit nie.
Wat grief my dan so oor die Twilight-reeks?
Daar is só baie aspekte van dié sage wat net so belaglik is... soos byvoorbeeld die hoofkarakter, Bella, gespeel deur Kristen Stewart. Om te begin is sy nie juis 'n inspirasie as aktrise nie. Indien sy net in karakter optree, wil ek so ver gaan om te sê die karakter is flou en oninspirerend.
Edward, daarenteen, blink nou weer soos 'n blink-blink diamant.
Twilight leer jou dat dit heeltemal normaal is om totaal en al obsessief te wees oor die ander persoon in jou verhouding. Soveel so dat jy in die aande by hul kamers inbreek om hulle vir maande lank dop te hou terwyl hulle slaap... en dan natuurlik om die heeltyd na mekaar te staar.
Ek dink daar is ten minste twee ure in die eerste Twilight-fliek wat net wys hoe Edward na Bella staar. Is dit net ek, of is dié soort optrede nie normaal nie?
Vir 'n "tiener" wat al honderde jare oud is weet Edward darem maar baie min van verhoudings en tree hy net soos 'n hoërskoolkind op.
Vir iemand wat al langer leef as wat daar motorkarre bestaan, is dit darem maar net nie genoeg nie. Sy ouers móét soos 'n mislukking voel – veral as jy in ag neem dat hulle 'n honderd jaar gehad het om hom groot te maak. Dis nie juis wat 'n mens 'n suksesvolle poging noem nie.
Dit moet ook darem intens vervelig wees om konstant op hoërskool te wees. Ek sou graag wou weet hoe lyk die seun se akademiese rekord, want hy is die oudste post-matriek in die geskiedenis van menswees. As hy nie 'n onderskeiding in elke vak kry nie moet hy óf uiters onintelligent wees, óf 'n groot gebrek aan motivering hê.
Vergeet 'n mens vampiere wat siele, emosies of die vermoë het om lewe te skenk ten spyte van die feit dat hulle dood is, moet jy ook nog vrede maak met die onwerklikste deel van die hele sage: wanneer Edward Yahoo gebruik vir 'n internetsoektog, pleks van Google. Dit is net weird.
Boonop kry Edward en Bella op die ou end 'n dogter. As Afrikaner sukkel jy soms om gewoond te raak aan name soos Chrizette, Hermienka en Chare-ne. Edward en Bella gaan egter 'n stappie verder en noem hulle dogter Renesmee. Liewe aarde tog – hoe gaan sy deur hoërskool kom? Met 'n naam soos dit beplan Stephenie Meyer sekerlik om eendag dié (afge)sage voort te sit.
Laastens, 'n spesiale woord oor die wolfie. Dis jammer dat sy karakter net fokus op die Bella-Edward-romanse, en die heeltyd sy hemp moet uittrek. Baie tieners rebelleer teen hulle ouers en gebruik dan dagga en dwelms. Nie dié ou nie. Hy laat waai net elke nou en dan sy hemp, en probeer moeilik wees. Om dit erger te maak is hy die heeltyd kwaad omdat hy nie op Bella imprint nie... en dan imprint hy blykbaar op die ou end op haar dogter. Watookal dit veronderstel is om te beteken!
Nee wat, die wêreld is 'n beter plek sonder enige verdere Twilight-boeke of flieks.
Kom ons hoop nou maar net dat Stephenie Meyer se geld nie te gou opraak nie, want dan sal sy sekerlik weer haar pen optel. En dít het ons beslis nie nodig nie!
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.