Só lyk 'n wenspan mos!
2012-08-23 08:31
Die Proteas het die afgelope maand die uitdaging van hul toetsreeks in Engeland met vlieënde vaandels geslaag.
Om die toetsreeks Maandag met 2-0 te beklink eerder as om gelykop te speel het die kersie behoorlik op die koek vir beide span en ondersteuners geplaas.
Die invloed van Gary Kirsten en sy afrigtingspan het 'n merkbare verskil aan die lot van die span gemaak.
Die Suid-Afrikaanse span was oor die afgelope 15 jaar nog altyd naby aan wêrelddominansie, maar ná die ondergang van 'n ongelooflike Australiese span het die Proteas die vermoë om hulself in die voet te skiet, bemeester, totdat ons ondersteuners nie meer hare oorgehad het om uit te trek nie.
Met Gary Kirsten as bevelvoerder sien ons moontlik nou die eerste tekens van 'n wenspan wat reg is om oor te neem en weer die krieketvlam by plaaslike ondersteuners aan te steek.
Dit is nie toeval dat ons huidige toets-, eendag- en T20-span een is met die grootste verskeidenheid spelers ooit nie. Die manne spog ook met 'n kalmte en nederigheid wat nog nooit 'n sterk punt vir enige Protea-span was nie.
Vir die spelers tot sy beskikking kan Kirsten nie enige krediet kry nie – soos enige nasionale span-afrigter is hy ook maar uitgelewer aan die talent wat tot sy beskikking is.
Van al die kolfhelde wat Suid-Afrikaanse krieket al oor die jare gehad het, het ons tans drie van die grootste talente tot ons beskikking: Kallis, Amla en AB de Villiers. Al drie lê tans onder die topvyf van die IKR se toetskrieket-kolfranglys.
Ons boulers vaar ewe goed: Dale Steyn en Vernon Philander lê tans eerste en tweede op die toetskrieket-boulranglys. Die besluit om Philander Engeland toe te stuur om klubkrieket te speel en die omstandighede gewoond te raak was 'n ongelooflik geïnspireerde een.
Dit is lekker om 'n span te hê wat só divers is in terme van talent en kulturele agtergrond, en anders as ons Engelse opponente kan ons met trots sê – hulle is ons s'n!
Selfs ons ingevoerde Imran Tahir is ongelooflik passievol en lyk na 'n gewilde karakter onder die spelers. Hoe sleg moet dit nie wees om te weet dat amper die helfte van jou span eintlik maar hul oorsprong in 'n ander land het nie?
Wat die span se kalmte en nederigheid betref is daar soveel duidelike tekens dat wat agter die skerms met die spelers besig is om te gebeur, besig is om te werk.
Daar was altyd 'n mate van senuweeagtigheid en spanning wat hand aan hand met enige vertoning op oorsese bodem gegaan het, maar na 'n verlengde tyd saam met die span het Kirsten al hierdie tekens soos mis voor die son laat verdwyn.
Daar is 'n onmiskenbare vreugde en passie wat terug is in ons spelers se lyftaal, en 'n trots wat beloon word met die nodige resultate.
Kyk maar net na die totale vreugde wat losgebars het onder die spelers toe die laaste paaltjie geval het. Die skrif vir die wedstryd en reeks was reeds aan die muur aan die einde van die vierde dag – tog lyk dit asof dit nie genoeg was nie en of hulle daarop gefokus was om die Engelse paaltjies een vir een te vermorsel. Eers toe die laaste kolwer terugkeer pawiljoen toe, was dit die regte tyd om fees te vier.
Laastens is Gary Kirsten se impak nêrens meer sigbaar as in Graeme Smith nie. Sy kapteinskap oor die afgelope reeks was werklik besonders en dit kom net met ervaring, sowel as 'n baie goeie verstandhouding met sy afrigter. As 'n speler wat sopas die rekord gebreek het vir die kaptein wat die meeste keer sy nasionale span gelei het, is die ironie daarin dat sy beste dae as kaptein moontlik nog voor hom lê.
Ek was nog nooit baie erg oor Graeme Smith as kaptein en speler nie, maar in sommige gevalle is dit goed om liederlik verkeerd bewys te word. Dis veilig om te sê hy het sy kritici se monde behoorlik gesnoer.
Die spangees wat gebou is oor die afgelope jaar is iets wat ander spanne nie maklik sal afbreek nie – veral omdat dit met 'n trommel vol talent gepaard gaan.
Hierdie twee faktore sal sorg dat die Proteas nie net die konings van toetskrieket is nie, maar dat ons Suid-Afrikaners uiteindelik ons hande op 'n trofee of twee sal kry oor die volgende 12 maande.
Indien Kirsten en sy troepe vir Mickey se manne op hul plek sit sal hulle die geleentheid hê om vir lank nog koning te kan kraai oor almal in wêreldkrieket in meer formate as net toetskrieket.
Daar is vir my geen twyfel dat hulle presies dit gaan doen nie.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.