Proteas het baie om te leer
2013-03-06 08:55
Na die afloop van 'n uiters suksesvolle toetsreeks teen Pakistan, kon ek nie die enigste Suid-Afrikaner wees wat uitgesien het na 'n lekker eendagwedstryd op 'n Sondagmiddag tussen dié twee spanne nie.
Ongelukkig het Pakistan die Proteas behoorlik ore aangesit en het dit nie vir soveel kykgenot gesorg as wat ek gehoop het nie.
Bygesê, dit was 'n onervare span, en was waarskynlik die ideale geleentheid om vir 'n paar nuwelinge en randfigure 'n kans te gun. Tog was dit totaal en al vergeetlik. Die ouens kon eenvoudig nie hul kans vat nie teen 'n baie opwindende en ervare Pakistan-span wat genoeg pakslae vir een somer gekry het en sekerlik hul kans om wraak te neem, vreeslik geniet het.
Van die begin van die wedstryd af het die Pakistanse kolwers die Proteas se boulers sagter as ryp papajas gemoker. Laat in hul kolfbeurt het die boulers teruggeveg, wat vir 'n bietjie hoop en optimisme gesorg het voordat dit die Proteas se beurt was om te kolf.
Die een en sekerlik enigste positiewe aspek wat die ouens uit die wedstryd kon neem is AB de Villiers se vertoning as openingskolwer. Ek is nie oortuig daarvan dat Quinton de Kock al gereed is om vir AB te vervang as paaltjiewagter nie en AB se posisie as een van die voorste kolwers in die wêreld gaan dit nie juis veel makliker vir hom maak nie. Waar AB kolf maak egter seker nie soveel saak nie, aangesien daar so min boulbeurte is. Dat hy wel kolf is al wat saakmaak.
'n Mens kan ook nie anders as om vir De Kock jammer te kry nie – sy kanse sovêr was baie beperk. Genadiglik vir hom is hy nog jonk en het hy hopelik nog baie jare agter die paaltjies wat vir hom voorlê.
Oor die ander kolwers hoef 'n mens nie eintlik veel te sê nie. Hulle vertoning (of tekort daaraan) het die swakste totaal deur 'n Protea-span in die geskiedenis van T20-wedstryde opgelewer.
Ongelukkig het die eerste wedstryd uitgereën en ongelukkig kan daar nie veel gebou word op 'n enkele wedstryd nie.
Genadiglik neem niemand hierdie goed verskriklik ernstig op nie en sal die ondervinding hopelik die spelers laat herfokus en dwing om na te dink voor hulle weer die kans kry om die groen en goud te dra. In watter vorm van die spel dit ook al mag wees.
'n Mens kan ook nie anders as om Pakistan se vertoning te loof nie. Behalwe vir die feit dat hulle stoom verloor het aan die einde van hulle kolfbeurt, het hulle nooit buite hulle gemaksone gespeel nie en kon hulle elke groot aflewering van die Proteas behoorlik grens toe pos.
Die groot les vir ons ouens is om te leer om kalm te wees en om nie weg te kruip nie. In kontras met toetse kry elke kolwer of bouler in elk geval die meeste van die tyd 'n baie kort kans om te speel. Pakistan het hongerder gelyk vir lopies en verantwoordelikheid geneem – iets wat 'n mens van ons jonger spelers moet kan verwag in die toekoms.
Die voordeel van dit alles is dat Faf sy span se opponente geluk gewens het, en erken het dat hulle by Pakistan kan leer. Dit is duidelik dat die afrigterspan besig is om nuwe dinge te probeer en 'n behoorlike balans te vind. Dit is soveel beter as om voort te sukkel met dieselfde mislukkings, soos die norm was voor Gary Kirsten hoofafrigter geword het.
Nou kan die spelers en ondersteuners darem uitsien na 'n eendagreeks teen 'n Pakistan-span wat hul byt terug het en sekerlik vir 'n behoorlike tweestryd sal sorg oor die volgende maand.
Kom ons hoop dat 'n paar van die lesse wat geleer is die afgelope Sondag sal help om die legkaart vir die span se pad vorentoe te bou.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.