Plaaswerkers klop aan verkeerde deur
2012-11-14 09:06
'n Groot aantal plaaswerkers in Suid-Afrika is arm en desperaat vir meer geld en beter lewensomstandighede.
Tog blyk dit of boere in die Wes-Kaap hulle slegter hanteer as elders in die land – anders sou 'n mens immers, nes met die staking in die vervoerbedryf, elders in die land ook stakings gesien het.
Hoe dan nou?
Is 'n werker in Mpumalanga en die Noord-Wes soveel meer gelukkig, en ryker, as een in die Wes-Kaap?
Ja, natuurlik is daar boere wat hulle werkers sleg behandel. Daar is egter ook boere wat hulle werkers goed behandel. Niemand is perfek nie; tog vermoed ek baie boere verdien nie dié soort reaksie nie.
Daar is egter twee belangrike punte waarvan elke plaaswerker wat boere die stryd aansê, kennis moet neem:
* Oorsese mededinging in die vrugtemark beteken plase is nie die pot goud wat mense dikwels aanvaar dit is nie. Die meeste boere moet reeds fyn beplan om mededingend en winsgewend te wees. Om werkers se salarisse te verdubbel (soos wat geëis word), of selfs met 50% te laat styg, is feitlik onmoontlik, en sal beteken dat plase sink.
Ek weet van baie min poste in die wêreld waar jy te midde van die huidige ekonomiese omstandighede sulke reuseverhogings kan verwag. As werkers by Walmart in die VSA meer ure moet werk sonder 'n verhoging, wat maak 'n plaaswerker in SA anders?
'n Mens verstaan ook nie hoe daar ooit weer vertroue tussen werkgewer en werknemer kan wees as dieselfde werker wat gister jou wingerde afgebrand het, sy salarispakkie vandag wil kom haal asof niks gebeur het nie.
* Tweedens moet plaaswerkers kennis neem van wie bepaal wat die mininumloon in Suid-Afrika is. Dit is nie, soos sommige skynbaar dink, Helen Zille, die DA of die boere nie.
Die enigste amptenaar wat die mag het om dié koers op nasionale vlak te bepaal is die ANC se minister Mildred Oliphant. Dit is immers sý wat die minimumloon nie minder as 10 maande gelede nie met 9,3% verhoog het na R1 503,90 vir 'n werksweek van 45 uur.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek dink R1 503,90 is 'n belaglike salaris. Ek wens dit nie vir enigiemand toe nie – maar om die boere die vyand te maak is amper soos om die weervoorspeller te blameer omdat die wind waai.
Waar was diegene wat die stakers aanhits terwyl die besprekings oor lone plaasgevind het?
Ons land beleef 'n armoede- en opvoedingskrisis, en dit is die regerende party se verantwoordelikheid om die nodige te doen om verligting te bring. Ons leiers moet ten minste 'n bietjie harder probeer, want 'n mens sien bitter min leiding op hierdie gebied... of is ek net blind vir hulle harde werk?
Laat ons nie vergeet nie: die ANC wil die Wes-Kaap terugwen. Dit lyk of dreigemente om die provinsie onregeerbaar te maak, besig is om deurgevoer te word. Is dit nie vreemd hoe daar nou gerugte is dat dieselfde persoon wat in die huidige termyn die premier van die Wes-Kaap wou wees, betrokke is by die aanhitsing van werkers in dié einste provinsie nie? Is dit nie vreemd dat aanhangers en molesmakers met busse aangery word na dorpe soos Robertson nie, en dat diegene wat nie wil saamspeel nie, klaarblyklik met geweld gedreig word?
Dan verneem 'n mens ook dat minister Mildred Oliphant 'n bietjie oorsee kuier tydens die stakings. Wat is so belangrik dat sy nie ná die eerste moeilikheid op De Doorns, op die eerste vlug terug na SA gespring het nie? Herinner my gou weer wat haar portfeulje is?
'n Mens verstaan dat plaaswerkers se situasie desperaat is en dat hulle graag beter werksomstandighede wil hê. Hulle klop egter aan die verkeerde deur.
Ehrenreich en Fransman speel nou die rol van barmhartige Samaritaan, maar hulle weet net so goed wie die minimumloon bepaal, en dat die meeste plase in hierdie land dit nie kan bekostig om salarisse te verdubbel sonder om werkers af te dank nie. Tog kry 'n mens die gevoel dat die plaaswerkers se welvaart nie hulle eerste prioriteit is nie. Of verbeel ek my?
Ek wens die werkers kon dit ook verstaan.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.