Pakistan moet ligloop vir Kirsten se troepe
2013-01-16 09:18
Na die afloop van die toetsreeks teen Nieu-Seeland het die Proteas hul posisie op die troon van toetskrieket verstewig.
Die oorwinning kom na 'n uitstekende sege in Australië waar die span sy vermoë om vir elke bal te veg, behoorlik ten toon gestel het.
Die besluit om aan Graeme Smith as kaptein vas te hou, terwyl die eendag- en T20-spanne drasties verander het, blyk 'n baie inspirerende besluit te wees. Hoewel Smith nie juis dikwels groot tellings kry nie en ek (somtyds verkeerdelik) van hom verwag om te misluk voordat hy nog voor die penne is, het die jare en ervaring wondere gedoen vir sy kapteinskap.
Die kontinuïteit van 'n gevestigde span met 'n goeie verskeidenheid opsies in reserwes word afgerond deur sy leiding.
Dan het die span uitblinkervertonings op elke area van die veld. Jy gaan sukkel om by enige ander span in wêreldkrieket so 'n goeie kombinasie van die wêreld se voorste boulers en kolwers te kry.
Dale Steyn en Vernon Philander bevind hulle op eerste en tweede plek op die toetsranglys vir boulers. Morné Morkel is ook onder die toptien-boulers en die afwisseling wat Robin Peterson tot die boulaanval bring is onvervangbaar.
Wat kolwers betref is Hashim Amla sterk op pad na die nommer-een-posisie op die kolfranglys. AB de Villiers en Jacques Kallis is die klas van spelers wat vir die res van hul loopbane iewers naby aan die kruin van die golf sal wees en ons is bevoorreg om hulle in die span te hê.
Die een speler wat vir die meeste opgewondenheid by my sorg is Faf du Plessis. Hy het in die afgelope paar maande werklik na vore getree as 'n uitstekende kolwer en leier op die veld en dit is sekerlik net 'n kwessie van tyd voor hy ook opskiet op die ranglyste. Ek verwag groot dinge van Faf en glo dat 2013 en 2014 groot jare vir hom gaan wees in die aanloop na die volgende Wêreldbekertoernooi.
Ongelukkig het die Nieu-Seelanders hulle nie juis as sterk mededingers bewys nie. Tóg is die wyse waarop die Proteas vir hulle laat les opsê het, uiters bevredigend.
Dat albei toetse nie die volle vyf dae gehou het nie en die Proteas net twee keer gekolf het deur die loop van twee toetste, is beide 'n klop op ons eie spelers se skouers, maar ook 'n vinger in die rigting van swak opposisie wat gelyk het of hulle nie weet of hulle wil kom of gaan nie.
Hul desperaatheid om vir Chris Martin in te bring vir die toer spreek boekdele en op die ou end wens hulle seker hulle het eerder Coldplay se Chris Martin ingeroep. As hy vir Gwyneth Paltrow kon uitboul sou hy seker ook nie te sleg doen teen die Suid-Afrikaanse kolwers nie.
'n Mens moet die beter en die slegter spanne speel en kan niemand te gering skat nie. Dit is immers die einste Nieu-Seeland wat teen verwagting in die Proteas uit die vorige eendagkrieket-wêreldbeker geskop het.
Hierdie reeks sal nie veel doen om op te maak vir daardie mislukking nie, maar sal ten minste help om wêreldwyd die Proteas se intensie duidelik te maak om vir 'n verlengde tyd die beste toetsspan in die wêreld te wees.
Na afloop van die eendagreeks teen Nieu-Seeland draai die Proteas se fokus in die rigting van 'n sterker uitdaging in die vorm van Pakistan.
Pakistan en ander spanne sal moet ligloop vir Gary Kirsten se troepe – hulle gaan nie maklik hul status as die beste toetsspan in die wêreld laat vaar nie...
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.