Les Misérables ‘n triomf in fliekvorm
2013-01-30 09:01
Flieks oor musicals is oor die algemeen nie regtig vir my nie.
Eerstens moet jy erg wees oor die musiek in dié soort flieks en tweedens help dit as daar ten minste 'n ordentlike storie is.
Ek besef dat dit vir mense vreemd kan wees om 'n musiekblyspel te kyk, aangesien die karakters van begin tot einde spontaan in sang uitbars. Dit is soos 'n Disney-fliek op steroïde.
Les Misérables, wat onlangs in teaters uitgereik is, vang 'n mens met 'n bo-gemiddelde storie en klankbaan. Ek dink dit is werklik die beste fliek van sy aard wat ek al gesien het (hoewel ek nie 'n punt daarvan maak om dié soort fliekte kyk nie).
Die fliek en klankbaan is 'n vertolking van die blyspel wat wêreldwyd teatergangers se verbeelding en harte aangegryp het. Dit is op die boek deur Victor Hugo gebaseer, wat ten spyte van 'n aanvanklik negatiewe reaksie deur kritici, 'n groot uitwerking gehad het op lesers.
Die storie wentel om heelwat temas, maar die oorhoofse tema is een van geloof en hoe mense die lewe, die aard van liefde en God beleef.
Jean Valjean (gespeel deur Hugh Jackman in die fliek), word 19 jaar gevangenis toe gestuur omdat hy 'n stuk brood gesteel het vir sy suster se honger dogter. Die fliek begin waar Valjean vrygelaat word en hoe hy leer van vergifnis en genade en sodoende sy parool vryspring om 'n nuwe mens te word en'n nuwe lewe te begin. Aan die ander kant is daar Inspekteur Javert (gespeel deur Russel Crowe) wat volgens die wet lewe en vir wie genade en vergifnis nie bestaan nie. Javert maak dit sy lewensdoel om Valjean op te spoor en hom voor die gereg te bring.
As deel van Valjean se nuwe lewe maak hy 'n belofte aan die sterwende Fantine om haar dogter Cosette uit die kloue van die gesin wat haar grootmaak te red en vir haar 'n ordentlike lewe te gee.
Die rol van Fantine, wat op 'n tragiese wyse 'n prostituut word om vir haar dogter te sorg, word op 'n besonders roerende wyse deur Anne Hathaway vertolk. Sy is nie langer as 20 minute op die skerm nie, maar haar weergawe van “I Dreamed a Dream” is so intiem en hartroerend, lank na ‘n mens by die teater uitgestap het. Sy het met dié liedjie die onmoontlike vermag – om meer mense na trane te dryf as wat Susan Boyle met háár weergawe gedoen het.
Daar is ook die liefdesverhaal van die volwasse Cosette en Marius, die poging van 'n groep studente wat die Franse regering probeer omvêrwerp, sowel as baie ander kleiner storielyne en intriges.
As daar een aspek van kritiek is wat ek oor die fliek kan lewer, is dit dat ek nie heeltemal oortuig is oor Russel Crowe se vermoë om 'n dinamiese sanger te wees nie. Hy lyk uitstekend in die rol van Javert en ek sukkel om te dink aan enige ander akteur wat die rol met geloofwaardigheid sou kon vertolk – maar wanneer hy begin sing kom hy nie werklik op sy gemak voor nie.
Dit doen egter nie veel afbreek aan die geheelbeeld en belewenis nie.
Dit is moeilik om op te som wat ‘n mens werklik in die fliek beleef want daar is soveel aspekte – soveel hartseer, hoop, wanhoop, mislukking en oorwinning. Daar is nie baie stories, flieks of musiekblyspele wat die emosionele impak en omvang van hierdie verhaal troef nie.
Les Misérables is 'n besonderse verhaal. Hoewel musiekblyspele nie vir almal is nie, bereik dié fliek iets wat soveel ander blyspele net kan hoop om te bereik. Dis inderdaad meer as net 'n fliek.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.