Hoe nou gemaak met die Proteas?
2012-10-03 08:45
Dis nie die einde van die wêreld nie. Net die einde van die T20-Wêreldtoernooi vir die Proteas.
Soos met elke keer wat die Proteas uit 'n toernooi val, is daar 'n rede en die belofte van 'n beter toekoms.
Ek glo vas dat ons eendag-span nie ver van die beste in die wêreld is nie en dat daardie span op die regte pad is.
Ons T20-span bly egter 'n "eendag"-span in die sin dat ons altyd moet uitsien na "eendag" wanneer ons alles gaan reg doen en nie ons weg uit 'n toernooi gaan choke nie.
Die probleem met die "chokers"-brandmerk is dat dit maklik is om die praatwerk te doen oor hoe hulle nie "chokers" is nie. Vir so lank as wat ons egter ons toernooie op dié manier eindig, sal die spelers maar daarmee moet saamleef. Hulle sal moet kyk na waarom hulle as sulks gebrandmerk is, en dié probleme oorkom. As Nieu-Seeland se rugbyspan uiteindelik hulle eie stryd teen dié fenomeen kon wen, kan ons ook mos... eendag.
Die rede of verskoning vir hierdie keer se mislukking is AB se besluit om sy draaiboulers vir eers Albie en toe Morné Morkel te verruil toe hulle behoorlik in beheer was.
As ek nooit weer vir Albie Morkel 'n bal sien boul vir die Proteas in 'n T20-wedstryd nie, sal ek as 'n gelukkige man sterf.
Hier is iemand wat keer op keer ten alle koste in die oefengroep ingebring word asof hy mantel-en-al die wêreld gaan kom red. Met wat vir my lyk na ons swakste boulsyfers en net twee paaltjies gedurende drie beurte in die toernooi hoop ek die keurders kom ook gou agter dat hy nie die Wonderwerker is nie. Eugene sou met my saamstem.
'n Mens raak moeg vir karakters soos Morkel en Parnell wat altyd saamkom, maar nooit regtig werklik oortuig nie. Tog kan hulle nie verantwoordelikheid neem vir hulle insluiting nie.
Ons keurders is soos dieselfde ou donkie wat nou al sy kop rou gestamp het teen dieselfde rots; die tyd het gekom om die boekie op hierdie twee toe te maak en vir ander die geleentheid te gee.
Hulle is nie slegte ouens nie en ek glo hulle gee alles, maar hierdie is professionele sport en daar is baie ander spelers wat aan die deur van die span klop wat nou sekerlik hul kans moet kry.
Parnell, Albie Morkel en AB se verkeerde besluit is egter nie die dieper-liggende probleem in die T20-span nie.
Ons top-orde-kolwers moet weer behoorlik bekyk word. Ek is so erg oor Amla en Kallis soos die meeste ander mense, maar hulle en Richard Levi het 'n erg teleurstellende 51 lopies in totaal aangeteken in hulle gesamentlike agt beurte in die Super 8-ronde. Ou Graeme Smith sit seker en wonder of hy nie dalk 'n groter bydrae sou kon lewer nie.
Dan sal ons ook vir ons 'n ander paaltjiewagter moet kry. AB de Villiers is na my mening die beste kolwer in wêreldkrieket, maar verminderde verantwoordelikheid op hierdie vlak glo ek sal 'n positiewe bydrae tot sy kolfwerk en kapteinskap maak en hom bevry om meer aandag daaraan te gee.
So, dit is weereens met teleurstelling wat die Proteas hulle op 'n vlug terug huis toe bevind voor die einde van 'n toernooi. Oor die jare het mense egter aan dié soort ding gewoond geraak.
Waar hulle ons in die verlede laat kopkrap of vloek het, laat hulle ons vandag net met 'n sug.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.