Het jy jou kaartjie gekry?
2012-07-04 08:42
Verlede maand, toe kaartjieverkope vir Lady Gaga se konserte in Suid-Afrika beskikbaar geopen is, kon ek omtrent nie wag nie.
Nie dat Lady Gaga my besonders interesseer nie. Soos Rihanna, is 'n kunstenaar wat gekenmerk word deur wat sy aantrek en watter nasale klanke sy dié keer in haar liedjie gebruik, nie juis vir my aantreklik nie.
Tog, soos die geval was met U2 en Coldplay, kon ek nie wag om te sien hoe mense gaan reageer op die Computicket-stelsel nie, wat gewoonlik maar platval onder druk.
En dit het behoorlik platgeval!
Dit is vir my ongelooflik vermaaklik om te sien hoe volwasse (en onvolwasse) mense hulle totaal en al in dié kaartjie-kopery verloor.
Vir baie mense bied Computicket se stelsels die een en enigste geleentheid om hul gunstelingkunstenaar of musiekgroep te sien en as sulks is dit 'n bitter pil om te sluk wanneer rekenaarstelsels of tegnologie jou in die steek laat.
Dit lyk vir my of 'n mens se eerste reaksie in dié soort geval is om uit frustrasie vinger te wys na Computicket (en Big Concerts, wat hulle elke keer gebruik). Dan gebruik mense op hul Facebook-blaaie ook sommer die klas van taal wat jy beslis nie voor jou Ouma sou gebruik nie – en hulle ontlaai totdat al die Omo-poeier in die heelal hulle nie kan skoonwas nie.
Ek dink ek, nes soveel ander mense, sal graag wil weet waarom daar altyd so 'n groot gemors is wanneer kaartjieverkope vir groot internasionale kunstenaars open.
Ek wonder elke keer: Wat het hulle verwag en waarom het hulle nie met die nodige netwerke voorsiening gemaak om die aanvraag te kan bevredig nie?
As ‘n mens egter ‘n bietjie dieper as die oppervlak krap, is dit duidelik nie so eenvoudig nie en ‘n mens besef gou daar is baie meer aan die probleem is as die eenvoudige uitwys van 'n maatskappy wat nie omgee nie en nie hul huiswerk doen nie.
In Lady Gaga se spesifieke geval was dit volgens, wat ek kon aflei, die bank-bevestigingstelsels wat nie al die verkope tegelyk kon hanteer nie. Computicket kan dekades lank beplan vir hul verkope, maar het net eenvoudig nie beheer oor sulke situasies nie.
Verder kan die vinger sekerlik ook gewys word na onvoldoende internetbandwydte, wat dit onmoontlik gemaak het om die aanvraag te hanteer. Wie se skuld is dit – Computicket? Hulle kan alles in plek hê, maar as die infrastruktuur by mense se huise en kantore nie voldoende is nie, is daar niks wat hulle daaraan kan doen nie.
In terme van hulle eie stelsels kom ‘n mens ook agter dat dinge al baie verander het in die afgelope jaar en 'n half (sedert U2) en dit wil voorkom of die probleme wat hulle hierdie keer gehad het, werklik buite hulle beheer was – en dat dit 'n ongelooflike teleurstelling moes wees om weer dieselfde pad te moes stap as tevore.
As mens gaan kyk na hoe Computicket deur middel van hul Facebook- en Twitter-platforms kommunikeer met die publiek en mense aanhoudend inlig van die stand van sake kry jy die beeld van 'n maatskappy wat baie bewus is van tekortkominge in die verlede, baie hard probeer om almal gelukkig te hou en so min as moontlik tot enigiemand se spanningsvlakke wil bydra. As mens hulle boodskappe lees kom jy agter dat hierdie ouens ook maar net soos ons hulle konserte wil geniet saam met vriende of familie.
Ek het so twee maande gelede met 'n “kenner in die konsertwêreld” gepraat wat meen indien jy internasionale kunstenaars oorbring Suid Afrika toe, is daar net een opsie om te gebruik – en dit is Computicket. Die gemak van integrasie en beskikbaarheid van kaartjies landswyd is ongeëwenaar.
Geen ander kaartjieverskaffer bied jou die opsie om kaartjies aanlyn, by Shoprite, Checkers en House & Home te koop nie.
Op 'n ander noot: Vir beide U2 en Coldplay het ek 08:50 as die eerste persoon in die ry by 'n House & Home ingetree en nie later as 09:10 nie uitgestap met Golden Circle-kaartjies, terwyl 'n groot aantal mense in rye van honderde by Checkers- of Computicket-takke gestaan het. Óf mense besef nie dat hulle by House & Home kan kaartjies koop nie, óf hulle hou net daarvan om halwe werksdae te hê. In die toekoms is dit dalk 'n goeie idee vir jou om 'n House & Home op te soek eerder as die internetstelsel.
Hierdie rubriek is beslis nie 'n aanval op Computicket nie. Daar is 'n rede waarom hulle die voorste kaartjieverskaffer in Suidelike Afrika is en hulle het keer op keer probeer om dinge anders te doen en te verbeter op vorige pogings. Dit lyk tóg of die wiel besig is om te draai.
Ek glo vas dat hulle besig is om nader aan 'n werkbare oplossing te beweeg.
Kom ons hoop net dat die nodige infrastruktuur in plek is vir dinge om vlot te loop wanneer Big Concerts die volgende keer besluit om een van die grootste kunstenaars in die wêreld na Suid-Afrika te nooi.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by http://www.malherbepelser.com/ of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.