Gee ons 'n sportpakket, MultiChoice
2012-07-25 08:03
Die tyd het definitief aangebreek vir MultiChoice om 'n DStv-pakket wat net op sportkykers gemik is, beskikbaar te stel.
In die afwesigheid van regstreekse sport en 'n PVR word 'n groot hoeveelheid van my tyd voor die televisie gespandeer met die remote in my hand en my eie weergawe van hip-hop.
Hoe meer ek kanale hop om iets hips te vind, hoe minder kry ek dit reg. Maar ek is seker dat ek 'n mean beat slaan met die druk van die knoppies.
Een van my grootste vrese in die lewe is dat ek 'n Vrydag of Saterdagaand tuis moet spandeer en iets op die TV moet vind om te kyk.
Ek sien myself as iemand wat relatief goed ingelig is oor die media- en vermaaklikheidsbedryf. As daar 'n fliek is wat ek al wou sien sou ek teen hierdie tyd 'n plan gemaak het om dit te sien en dit gebeur bittermin dat daar 'n fliek is wat ek nie ken nie wat op DStv wys, wat interessant genoeg is dat ek dit wil kyk.
Dit klink seker 'n bietjie snobisties, maar ek is seker dat ek nie te vêr van 'n punt af is hiermee nie.
Soos ek verstaan kos dit MultiChoice-kanale duurder om die meer gewilde flieks te wys en sodoende is 99% van alle flieks wat wys aan die swakkerige kant.
Ek is trots op my taal en om 'n Afrikaner te wees, maar daar is darem 'n ongelooflike hoeveelheid goed wat op kykNET wys wat my lusmaak om die berge in te hardloop en nooit weer terug te keer nie. Van Elizma Theron wat wil huil as dit reën (ek hoop maar vir haar part sy kom kuier nie gereeld in die Kaap nie) tot Lizz Meiring wat met haar iPad sit en aanbied op 'n Samsung-geborgde program... dis alles 'n bietjie baie vir my. Al program wat my interesseer is Jan Braai vir Erfenis. Hulle leer jou darem hoe om lekker te braai, maak baie grappies en sorg vir menige glimlag.
Amerikaanse snert soos Minute to Win It en Million Dollar Money Drop is ook nie enige self-respekterende mens se tyd werd nie. Ek meen, wat baat jy enigsins daaruit om te sien hoe ander mense dag na dag die gelukspel tot rykdom probeer speel? Gaap.
In terme van Amerikaanse reekse is ek nie regtig een vir dramas soos Greys Anatomy en Private Practice nie. Daarenteen moet 'n mens jou hoed afhaal vir 'n komedie soos Modern Family en een van die beste reekse wat ek in my lewe al gesien het – Homeland.
Dan is daar ook reekse wat oor die afgelope paar jaar verskyn het soos Alcatraz, A Gifted Man en Terra Nova, wat skaars op plaaslike televisie was voor dit oorsee gekanselleer is. A Gifted Man spesifiek was al in Mei-maand formeel gekanselleer en het eers in die eerste week in Julie op M-Net begin wys.
Ek weet nie van julle nie, maar ek het op 'n persoonlike vlak absoluut geen belangstelling daarin om 'n reeks te begin kyk wat 'n mens reeds weet nie enige behoorlike afsluiting sal hê nie.
Die skedules vir programme op M-Net en ander kanale word seker ten minste ses maande vooruit beplan en 'n mens kan nie die kanale kwalik neem vir dinge wat buite hulle beheer is nie.
Daar is natuurlik hordes ander kanale en programme wat ek seker kan probeer kyk en ontleed maar my mikpunt is nie om 'n boek te skryf nie.
'n Mens kan maar net hoop dat iemand by Multichoice eendag die lig sal sien en 'n pakket wat spesifiek op sportkykers gemik is, sal begin.
Ek dink daar is 'n hele klomp van my vriende wat sal lus wees om minder te betaal en nie die ander goed te kry nie, en wat steeds al die sport sal wil beleef. Dan kan 'n mens enige fliek wat jy wel sou wou kyk op Box Office kry (mits jy 'n PVR het). Dit sal great wees.
Ek weet net nie of my vrou baie van hierdie soort ding sal hou nie...
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.