Federer 'n sportheld soos geen ander
2012-07-11 08:21
In 'n tyd waar Suid-Afrikaanse sportkykers genoeg rede het om verskeie vlakke van entoesiasme oor die Springbokke en die Proteas te hê, is dit moeilik om agter te kom watter sport nou eintlik die trots van Suid-Afrikaners is.
Die Springbokke is nooit te vêr van die kruin van wêreldrugby nie, maar daardie soort verwagtinge bring meestal net teleurstelling.
Die Proteas, daarenteen, kan so hoog op enige ranglys lê soos hulle wil, maar ná hulle twee dekades een van die beste spanne in die wêreld was, sal dit sekerlik die wen van 'n Wêreldbeker-trofee verg om die land weer behoorlik aan die gons te kry oor die span. Ons kan maar net hoop dat Gary Kirsten die "sukses-resep" (as daar so iets is) wat hy vir die Indiese span gebruik het, herhaal. Hulle het, genadiglik, genoeg tyd ter voorbereiding vir die volgende Wêreldbekertoernooi, so daar kan geen verskonings wees nie.
Sporte soos netbal en hokkie sal nooit genoeg aandag trek nie.
Suid-Afrikaanse gholf is in 'n interessante situasie. Op enige gegewe dag kan beide Charl Schwartzel en Louis Oosthuizen enige van die top-spelers verras, en hulle het beslis al gewys dat hulle op die hoogste vlak kan meeding. Albei is nog jonk genoeg om hulle hoër in die Wêreldranglys te vestig, maar daar is geen waarborg vir sukses nie. Met 'n geskiedenis van goeie gholfspelers in die land is dit 'n sport waaroor Suid-Afrikaners in die nag gerus kan slaap.
Hoe minder gesê oor Bafana, hoe beter.
Mis ek enigiets?
O ja, tennis.
Min buitelanders sal Roger Federer met Suid-Afrika assosieer, tog is daar 'n baie groot persentasie Suid-Afrikaanse tenniskykers wat die naweek hard feesgevier het na Federer se oorwinning by Wimbledon.
Ek het geweet sy ma is 'n Suid-Afrikaner, maar het nie besef dat hy Suid-Afrikaanse burgerskap het nie. Te danke aan die wonders van die internet weet ek darem ook nou dat dit die geval is.
Dit is darem maklik om vir Federer spesifiek as Suid-Afrikaner te eien.
In teenstelling met baie Amerikaanse sportsterre kom hy beskeie voor. Af van die baan, en anders as met Tiger, lyk dit ook asof hy 'n skoon en gelukkige lewe met drie vrouens in sy lewe het – sy vrou en tweelingdogters.
Ek hoef nie statistiek hier te herhaal nie. Die feit van die saak is dat Federer tien teen een reeds die beste speler in die geskiedenis van die sport is. Daar lê nog 'n rekord of twee voor hom wat gebreek moet word, maar sy vertoning by Wimbledon het bewys dat hy die talent en ervaring het om dit ook te bereik.
Murray, Nadal en Djokovic sal lugtig wees vir sy aanslag in die Amerikaanse Ope, wat volgende maand begin.
Vir die afgelope paar jaar was Federer se spelpeil en vertonings nie op sy gewone hoë standaard nie en om op so 'n wyse te kon terugveg en sy jonger teenstanders (buiten Nadal) te kon klop, sê baie van sy wilskrag, veggees en talent.
Federer moet nog net een Wimbledon-mans-enkeltitel wen om die speler met die meeste Wimbledon-mans-enkeltitels te word (hy is tans gelyk met Pete Sampras, met sewe).
Of Federer dit vermag of nie, maak nie regtig saak nie. Hy sal altyd as een van die beste sportmanne van alle tye bekendstaan.
En hy is ook Suid-Afrika se trots.
____
Slotwoord: Na aanleiding van my rubriek van twee weke gelede waarin ek gesê het Mark Boucher moet liefs sy loopbaan vroeër beëindig, en na aanleiding van sy besering en operasie die afgelope paar dae wil ek van my kant af ook vir hom alle sterkte, voorspoed en gesondheid toewens. Ongeag van wat 'n mens van sy teenwoordigheid in die span dink, weet ek almal van ons kan saamstem dat iemand van sy status en ervaring nie verdien het om sy loopbaan op so 'n noot af te sluit nie.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.