Doodstraf nie noodwendig die oplossing
2013-02-13 08:04
Die grusame verkragting en moord op Anene Booysen het skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse en internasionale media gestuur – en so ook deur die harte van elkeen wat daarvan gehoor het.
Ek moet erken ek sukkel om te verstaan wat een mens lei tot so 'n gewelddadige aanslag op 'n ander.
Daar is 'n groot aantal mense wat nou weer vra vir die doodstraf en terwyl ek definitief glo dat dieselfde reëls nie kan geld vir hierdie soort misdadigers en byvoorbeeld iemand wat 'n motor steel nie, kan die doodstraf alleen nie noodwendig as 'n wonderkuur vir ons land se morele verrotting beskou word nie.
Die dade van dié monsters in ons land het tog 'n kern en 'n oorsprong en terwyl die doodstraf hulle sal verwyder voor ons aangesig, sal dit ons nie noodwendig help om agter die kap van die byl te kom nie. Anders kweek ons maar net generasie op generasie misdadigers. Vrees vir die dood alleen gaan niks verander nie.
Oor 'n paar weke van nou af sal ons weer iets nuuts vind wat ons skok, en dan is die "geval" van Anene Booysen maar net nog een op 'n lang lys van siek gebeure in ons land.
Dit is eintlik ongelooflik om te dink hoeveel geweld Suid-Afrikaners op 'n gereelde basis moet verwerk.
Ek gee nie om wat jou velkleur of agtergrond is; of hoe mense redeneer dat sy nie daardie tyd van die aand in so 'n posisie moes wees nie; of wat mans meer of minder geneig maak om 'n meisie te verkrag nie: Geen mens in enige uithoek van hierdie wêreld verdien om die lewe op so 'n traumatiese wyse te verlaat nie.
Is dit blote toeval dat hierdie voorval in Suid-Afrika gebeur het, of is dit 'n teken van 'n wyer probleem?
Enige ingeligte Suid-Afrikaner sal kan getuig dat dit maar net nog 'n simptoom is van 'n land wat moreel bankrot is. Ons sien dit in die manier wat ons land se eie mense besig is om internasionale sindikate te help om die renoster uit te wis. Ons sien dit in die manier wat vrouens en kinders verkrag word. Ons sien dit in die manier wat boere op brutale wyse landwyd vermoor word.
Wat maak dat 'n man so iets aan 'n vrou of 'n meisie wil doen? Wat motiveer 'n man om 'n boer (of enige mens) op 'n grusame manier te vermoor? Wat maak jou so desperaat vir geld dat jy een van die mooiste diere op hierdie aarde sal uitwis vir sy horing?
Is dit 'n tekort aan opvoeding? Is dit vrees? Is dit die duiwel? Is dit apartheid se skuld?
'n Mens kan sekerlik bespiegel oor wat fout is, maar ek dink dit alles begin by jou respek vir die lewe. Die feit dat jy vandag lewe in so 'n groot heelal is 'n wonderwerk. Elke asem van elke mens rondom jou is spesiaal op sy eie manier.
Ons land het 'n besonderse natuurskoon en dierelewe. As jy nie hierdie goed kan raaksien en erken nie, is dit heel moontlik dat jy die tekort aan waardering omskep in die wil om alles en almal rondom jou uit te buit en te vernietig, sodat jy op die ou end vir eie gewin kan vat, plunder, moor en verkrag.
Ek glo nie daaraan dat armoede of die tekort aan opvoeding outomaties haat in jou hart kweek en jou neig tot enige vorm van misdaad teen diegene rondom jou nie. Ek het al te veel mense van die eenvoudigste agtergrond en in die "armste" situasies ontmoet wat meer liefde en emosionele krag het as van die rykste mense wat ek al ontmoet het.
Ek glo dit alles kom neer op respek vir die lewe – en om een of ander rede is daar mense in ons land wat geen respek vir die lewe het nie. Ons lewe in 'n siek samelewing, en as ons nie die oorsaak hiervan raaksien nie, gaan niks verander nie.
Só probeer ek ook net sin maak van 'n situasie wat aan almal van ons se siele knaag, en wat 'n tragiese impak op die lewe van Anene Booysen en haar gesin gehad het. Miskien is dit 'n goeie ding as ons hieroor begin praat en gedagtes wissel oor waarom dinge is soos dit is, en wat ons kan doen om 'n wesenlike verandering te bring.
Ek glo as ons nie ons mense gaan begin leer om respek vir elke vorm van lewe te hê nie, gaan geen slagspreuke, betogings of selfs die doodstraf help nie.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.