Britte kan nie lank dié golf ry
2012-09-12 08:19
In Augustus 2011 was Londen aan die brand en daar was baie vraagtekens oor die veiligheid in dié stad en die toekoms van Brittanje.
Tog is dit ongelooflik dat dié herinneringe 'n bietjie meer as 'n jaar later feitlik vergete is, ná net 'n paar maande in die kollig.
Toe Andy Murray Maandagaand die eerste Brit in 76 jaar geword het om 'n Grand Slam-titel te wen, het dit 'n goue somer vir Brittanje gekroon.
Met die oë van die wêreld wat op Londen gerig was tydens die Olimpiese en Paralimpiese Spele, het hulle nie teleurgestel nie. Ten spyte van die probleme in 2011 en vraagtekens oor sekuriteit vir die Spele het Brittanje, nes Suid-Afrika met die 2010-sokkerwêreldbeker, alle kritici verkeerd bewys en alle verwagtinge oortref.
Dit was een groot oefening in Britse patriotisme van voor tot agter. Dit is in kontras met Amerikaanse patriotisme, wat meestal oordadig is en in mens se keel afgeforseer word om elke hoek en draai. Al is ek nie een vir 'n Brit nie moet ek erken, ek het dit ongelooflik baie geniet – meer so as Beijing en Athene. Ek gun hulle hul tydjie in die son. Aangesien hulle so min daarvan het.
Vir die van ons Suid-Afrikaners wat al in Londen of Brittanje gewerk het, was daar ook darem iets lekkers daarin om die gebeure daar te kon volg.
Dus, na 'n uiters suksesvolle en genotvolle Spele, het die Britte hul goedvol-golf gery tot by Andy Murray se oorwinning oor Djokovic in die Amerikaanse Ope.
Al swart kolle op die Britse radar die afgelope paar maande was Prins Harry se naakte foto's – maar as dít 'n land se grootste probleem is, dink ek moet ons sommer ook vir Julius of Steve of Ninja tot Prins verklaar. Dít sal beslis vir opwinding sorg.
'n Mens wonder egter hoe lank dié gevoel van euforie en patriotisme die land gaan dra voordat negatiewe sosiale elemente weer hul hoodies wys.
Een van die verbasendste dinge bly vir my dat Duitsland in 1936 die Olimpiese Spele aangebied het, net om kort daarna feitlik die hele wêreld uit mekaar te wou skiet.
'n Mens kan maar net kyk na hoe trots en patrioties ons as Suid Afrikaners was met die Sokkerwêreldbeker en waar ons onsself vandag bevind na Lonmin en diesmeer.
Sport is 'n welkome afleiding van die probleme in enige land, maar dit is 'n afleiding wat nie vir lank kan hou nie. Met die sosio-ekonomiese uitdagings in die huidige wêreld-klimaat is dit iets wat Brittanje, nes Suid-Afrika, gou sal agterkom.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.