3D nié so indrukwekkend
2013-01-23 09:19
Hollywood se beheptheid met 3D-flieks is al klaar besig om te verander hoe ons na flieks kyk.
Baie rolprente word deesdae by teaters eksklusief in 3D vertoon (ten minste vir 'n sekere deel), wat 'n mens eerstens dwing om meer geld uit jou sak te haal, en tweedens mense (soos ek) wat eerder 2D sou verkies, dwing om 3D te kyk.
As ek byvoorbeeld vanaand by 'n Ster Kinekor-teater sou besluit om The Hobbit in 3D te kyk, sou ek R70 moes opdok. Teen R65 per kaartjie is dit by By Nu Metro nie veel beter nie.
Miskien is ek as Kapenaar geseënd met die Labia-teater met sy laer kostes, sy kleiner skerms en sy sagter klank, maar dit is vir my net soveel meer van 'n belewenis. Daarbenewens het ek ook nie nodig om deur een of ander winkelsentrum te gaan en in lang rye vir kaartjies en koeldrank te staan nie.
Ek het nou al drie flieks in 3D gekyk en ek sukkel regtig om positiewe elemente daarin raak te sien. Ja, dit is 'n aardigheid wanneer jy goed by die skerm sien "uitspring", maar vir my sal dit net dít bly – 'n aardigheid.
Net soos die maand wat ek op hoërskool regtig hard probeer het om van rook te hou, is 3D-rolprente maar net nog iets wat my nie aangryp nie.
Sekere flieks word natuurlik geskiet met die nodige tegnologie om dit optimaal in 3D te vertoon – maar met ander voeg hulle eers ná die tyd die 3D-element by in 'n poging om meer kaartjies te verkoop en uiteindelik meer geld te maak.
Ek sukkel om opgewonde te raak oor 'n fliek wat 3D nodig het om op sy eie twee bene te staan.
As daar enigiets goed is aan dié tegnologie, is dit dat ek dink dit moet vir kinders sekerlik 'n belewenis wees om flieks in 3D te kyk.
Tog dink ek nie die verskil tussen 2D en 3D verander 'n sesjarige se belewenis van 'n storie só drasties nie. 'n Goeie kinderfliek het dit nie nodig om geliefd te wees nie.
Neem byvoorbeeld The Lion King – dit was loshande een van my gunstelingflieks toe ek 'n kind was, en is steeds relevant vir kinders vandag. In 2011 was dié fliek weer in teaters te sien – dié keer in die 3D-formaat. 'n Mens moet jouself afvra of die doel werklik was om 'n nuwe dimensie tot die storie en belewenis by te voeg, en of dit eenvoudig nog 'n manier vir Disney was om geld te maak?
Daarbenewens is die tegnologie ook nie goed op jou oë nie.
'n Groep navorsers van die Universiteit van California in Berkeley het in 2011 'n studie gedoen oor die uitwerking van 3D-flieks op mense se oë, en gevind dat die onvermoë om die afstand van voorwerpe op die skerm te skat, ongemak veroorsaak. Dit veroorsaak min of meer die ekwivalent van oog-ADD.
Ek het nie 'n groep navorsers nodig gehad om dit aan my te bewys nie, en daar sal nou seker baie mense uitkom en sê hulle beleef dit nie so nie. Dit sal ook nie die uitbreiding van die gebruik van die formaat en al die nuwe huishoudelike televisiestelle en diesmeer wat daarvoor ontwikkel word, keer nie – maar dit gee darem diegene wat, soos ek, nie daarvan hou nie, iets om ons standpunt mee te verdedig.
Op die ou end begin die 3D-aanslag nou eers en daar sal baie verdedigers vír die formaat wees, maar ek kan myself net nie oortuig om té dol daaroor te raak nie.
Dit klink dalk oudmodies, maar ek verkies dat my flieks nie uitspring om my aandag te probeer kry nie – as 'n fliek sy sout werd is, het dit nie nodig om my op dié visuele wyse te bedïndruk nie.
– Malherbe Pelser is 'n professionele fotograaf. Hy is mal oor mense, sport, musiek en reis. Jy kan hom hier volg op Twitter, sy webblad besoek by www.malherbepelser.com of saam met hom kuier op Facebook.
Stuur jou kommentaar aan Malherbe
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.