SA kan by dié mense leer
2012-10-04 08:47
Ek is nie een vir die gim nie.
My chiropraktisyn probeer my so elke derde maand, wanneer ek haar vir ‘n sessie of twee besoek, oorreed om meer oefening te kry.
“Dis nie net gerugte nie, Liezl. Oefening ís goed vir jou,” maan sy. Maar ek wil haar nie glo nie.
En so kry ek toe ‘n jaar of wat gelede vir my ‘n gim-kaart. Dis omtrent waar dit begin en geëindig het. Ek het so ‘n paar keer joga-klasse bygewoon en myself met ‘n dikbek na die trapfiets en sy maatjies gesleep, maar dis nou glad nie wat ek lekker noem nie. Ek het soos ‘n hamster in ‘n hok gevoel. Die ander hamsters verkyk hul aan die figuur in die spieël. Ander verloor hulleself in hul iPhones.
Nou met die son wat nie meer so skaam is nie, het ek onlangs besluit ek gaan die promenade in Seepunt weer ‘n kans gee. ‘n Gratis gim by die see. Plus, dis ‘n paar treë van my woonstel af. Wie kan dit nou weerstaan?
Ek het eendag ná werk by die huis aangekom en outomaties my tekkies in my kas uitgegrawe en ‘n sweetpakbroek en ‘n hoodie aangegooi. Niks het by mekaar gepas nie; nie eers die vlekke op die eeue oue hoodie nie.
Toe’s ek uit by die deur nadat ek al huppelend die koeke uit my mp3-speler se oorfone losgewikkel het. Ek’s reg vir die pad.
My amptelike roete begin by die gemeenskaplike swembad en eindig by die ligtoring. Dan weer terug. Hier gaat ons!
Ek kry die gepaste musiek reg en gee my eerste tree terwyl ek die kelpagtige seelug diep in en uit asem.
Als wat ek deur my brilraam sien, word dadelik omskep in die openingstonele van ‘n fliek. Die musiek wat my ore streel word toe die klankbaan vir dié beelde.
Dit was asof ek Amelie was; daai deel in die fliek waar sy die blinde verbyganger aan sy arm gryp en saam met hom vinnig deur die strate van Montmartre vaar en als wat in die omtrek gebeur, aan die man met sy loopkierie beskryf: “Die bloemis lag. Hy’t kreukelrige oë. Stokkielekkers in die bakkery se venster. Ruik dit net! Hulle deel spanspek-skywe uit... ‘n Baba kyk na ‘n hond wat die hoenders in die rotisserie-oonde dophou!”
Nes sy, wou ek mense vertel wat ek gesien het toe ek so langs die pragtige promenade drafstap.
Daar sit ‘n oom in ‘n pak en boeklees. Sy senior burger Jack Russel sit lojaal langs hom. Verder langs my roete speel ‘n blondekoppie met ‘n swart seuntjie op die rondomtalie en ‘n ouma geniet die buitelug-gim langs ‘n kleurling tannie met krullers in die hare. ‘n Labrador wat breëbek glimlag, hardloop volspoed agter ‘n frizbee aan.
Verder aan sit ‘n jong meisie en ‘n ouer vrou op ‘n bankie. Die vreemdelinge gesels dik stukke. Duskant hulle sit ‘n jong, verliefde paartjie van verskillende rasse en koer vir mekaar.
Kampsbaai-tannies met perfekte manicures, ‘n sokkerspan wat draf, haweloses en branderplankryers, ‘n lesbiese paartjie wat hand in hand wandel, seemeeue, roomysverkopers. Almal is welkom op die promenade.
Ek trek nou al by Drieankerbaai en kan nie help om vlugtig aan Ingrid Jonker te dink nie. ‘n Brander slaan teen die promenade en die seewater spuit liggies oor my uit. Ek voel lewend en vol hoop en skiet ‘n vinnige gebed van danksegging die lug in.
Dit maak my so seer om daagliks te sien hoe ons nie verdraagsaam teenoor mekaar kan wees nie; teenoor homoseksuele mense, mense wat anders as ons lyk, voor ander gode neerbuig of selfs teenoor ons eie gesinne.
Die promenade troef rassisme, homofobie en die geneigdheid om jouself met plastiese dinge te omring.
Daardie dag het die promenade my ‘n blik gegee op hoe ons pragtige land kan wees. Verdraagsaam en vreedsaam. En soos ‘n hond wat sorgloos en sonder ‘n leiband kan hardloop.
– Liezl Temmingh is ‘n joernalis vir Nuus24. Jy kan haar hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Liezl
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.