Lewe in 'n paradys het óók sy prys
2012-08-20 07:00
Soms wil ek net oppak en trek.
Eintlik, nie eers oppak nie; net na die lughawe ry met die klere aan my lyf, my kar daar los en op ‘n vliegtuig na ‘n verlate plek klim.
Soms droom ek om kuns- of taalklasse in ‘n houthuisie in ‘n piesangboom op ‘n verlate eiland te gaan gee; ver – sommer báie ver – van die lewe wat elke dag van ons verwag word; ver van die internet; ver van motors se uitlaatgasse in spitsverkeer; ver van realiteit.
Ja nee, híér sal mense ég wees. Dit sal ‘n gemeenskap wees wat nog ‘n hel vir mekaar omgee. Die eiland se bewoners sal nie pretensieus of oppervlakkig wees nie. Hulle sal nie hul tyd op sosiale netwerke mors nie. Hulle sal kaalvoet loop en permanent seesand tussen hul tone hê. Hulle sal hul eie groente kweek en elke dag hul eie vis vir aandete vang.
En natuurlik sal ‘n glimlag altyd oor jou pad kom. ‘n Eenvoudige, primitiewe lewe, maar tog te ideaal!
“Liezl, jy lewe in ‘n fantasiewêreld,” hoor ek my geliefdes se stemme in my kop.
Ek en my broer deel dikwels hierdie tipe drome met mekaar. Gerard, wat tien jaar jonger as ek is, sien sy ideale toekoms in ‘n hangmat by Sodwanabaai. ‘n Lewe van heeldag surf en op die strand slaap, klink vir hom na ‘n blink idee.
Kyk, hy sukkel soms om skool, die druk om ‘n graad te kry en dan jou lewe in ‘n kantoor om te sit, ernstig op te neem. Ek kan nie met hom stry nie, want ons is kop in een mus in dié opsig. My ma terg dikwels dat ek sy gedagtes korrupteer en onnodige goed in sy kop plant.
Sy vertel my nou die dag hoe Gerard sy kuns-notas vir ‘n toets voor haar neus kom inskuif het. “Kyk,” het hy vir haar gesê. “Kyk net hoe Paul Gauguin geleef het. Dís hoe dit gedoen moet word. Hy’t als gelos en op ‘n eiland gaan woon!”
Dié impressionistiese kunstenaar, wie se skilderye van my gunstelingkuns is, het oënskynlik ‘n ideale lewe gelei. Wel, dis hoe dit in my broer se kunsklas oorgedra is...
Gerard is geleer dat Gauguin van Peru na Parys na Denemarke na Martinique en uiteindelik na Tahiti gerits het, waar hy een van sy bekendste kunswerke, Where do we come from? Who are we? Where are we going?, geskep het.
Die klas is geleer dat hy ‘n eenvoudige, maar ideale bestaan op ‘n eiland gevoer het. Hy was aanvanklik ‘n aandelemakelaar by ‘n bank in Parys, Frankryk, toe hy mettertyd belangstelling in kuns begin toon het. Daarna het hy besluit om ‘n middelvinger in die sakewêreld se rigting te gooi, sodat hy op sy kuns kon konsentreer. Hy het gedroom van ‘n afgeleë, tropiese eiland wat deur vrye mense bewoon word.
Vir idealistiese dromers soos ek en my boetie, klink dit mos nou fantasties!
Maar wat die hoërskoolkinders waarskynlik nie geleer is nie, is dat Gauguin baie struwelinge moes verduur. Sy geliefdes kon nie sy onortodokse drome verstaan nie. As ‘n mens dieper na sy geskiedenis kyk, besef ‘n mens hy’t sy vrou, kinders en die stabiele lewe wat hulle saam gebou het, in Frankryk agtergelaat om sy drome na te streef.
Van toe af was sy enigste doel in die lewe om ‘n kunstenaar te word; en nie net enige kunstenaar nie, maar ‘n uitsonderlike een.
Ná erge finansiële mislukkings op ander eilande het Gauguin uiteindelik in Tahiti, wat hy sy hele lewe lank wou besoek, opgeëindig. Die landskap en die mense was eksoties, misterieus en skilderagtig. Tahiti was sy idee van die beloofde land. Die kunstenaar was gefassineer deur die wilde, primitiewe skoonheid van die natuur.
Maar in sy “beloofde land” was geld maar skaars. Hy was depressief en het selfs selfmoord oorweeg. Een van sy ongelukkigste jare is ook in sy sogenaamde beloofde land deurgebring – die jaar wat sy dogter oorlede is. Al dié kwessies het tot die skepping van Where do we come from? Who are we? Where are we going? gelei.
Toe raak hy dodelik siek...
Ek dink nie my ma het geweet wat om vir Gerard te sê toe hy Gauguin se oënskynlike “ideale” lewe vir my ma uiteengesit het nie. Toe besluit sy eerder om my via BBM op ‘n speelse wyse uit te trap.
Ek skryf toe terug: “Sê vir Gerard dat Gauguin op die ou end weens sifilis en ‘n oordosis morfien gesterf het... So niemand wen nie.”
So wíé wen dan? Nie die ou met die aktetas (en die fancy kar en die hoë bloeddruk) nie en ook nie die ou wat op ‘n eiland gaan woon nie. ‘n Mens moet seker êrens ‘n balans probeer vind om volledig te voel en gelukkig te wees.
Gauguin het in 1897 al gevra waarheen ons vandaan kom, wie ons is en waarheen ons op pad is. Ek dink nie iemand kon al sy vraag beantwoord nie.
– Liezl Temmingh is ‘n joernalis vir Nuus24. Jy kan haar hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Liezl
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.