Geen voorbereiding vir dié toets
2012-10-22 08:38
Dis 22 Oktober 2002.
Ek staan voor die NG Kerk Umhlanga-gemeente. ‘n Klomp oë kyk vir my. Orrelklanke wat my pa vir die spesiale geleentheid saamgestel het, borrel by die luidsprekers uit. Die oomblik is oorweldigend. Ek’s daar, maar ook nie regtig nie.
Dis my voorstelling in die kerk, maar ek’s heeltemal verlore. Verbitterd. Ek’s kwaad vir God.
Ek kon nie myself keer om hierdie menslike emosies te ervaar nie.
Kanker is immers ‘n paar dae vroeër by my ma gediagnoseer. Dis reeds taamlik gevorderd en sy het klaar vir die operasie gegaan om die gewas te verwyder. Geen tyd vir speletjies nie. Chemo en bestraling is volgende.
My ma is my beste vriendin; ‘n absolute rolmodel en rots. Dis algemene kennis dat sy eintlik ‘n engel is wat tussen ons mere mortals wandel.
Sy sit met ‘n dreineringspyp, onder haar baadjie weggesteek, tussen die lede van die gemeente vir wie dit net nóg ‘n Sondag in die kerk is. Ek kyk vir my ma. Dis asof alles rondom my stil raak. Sy straal soos ‘n heilige tussen die hoede en pakke uit.
Ek en my Sondagskoolklas staan in ‘n ry voor die gemeente uitgestrek. Die dominee praat, maar ek hoor nie heeltemal wat hy sê nie. Hy gaan by elkeen se naam af en roep hulle na hom toe. Elkeen kry ‘n vers uit die Bybel wat uitgelees word.
Dis my beurt.
“Filippense 4:6. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
Die oomblik is te groot vir my.
“Moet oor niks besorg wees nie.”
Ek weet darem nie. Ek gaan my ma verloor...
Ja mense, ek’s presies tien jaar gelede voorgestel in die kerk waar ek my tienerjare deurgebring het.
Dis vandag 22 Oktober 2012. Ek en my gesin herdenk die tien jaar sedert kanker ons pad ongelyk kom maak het. Maar ek’s verheug om by te voeg dat dit ook ‘n dekade is vandat my ma kanker-vry is!
Daardie versie het daardie dag nie per toeval oor my pad gekom nie. God het reeds geweet ek het niks om oor bekommerd te wees nie. Ek wou destyds niks daarvan hoor nie. Ek het gedink dis iets wat mense net sê omdat hulle nie weet wát om in só ‘n situasie te sê nie.
Ek weet nie hoe om hierdie te sê sonder om soppy te klink nie, maar ek het regtig op ‘n moeilike manier geleer dat uitdagende tye oor jou pad kom om jou vertroue en geloof te toets. Ek het ook geleer dat ‘n mens áltyd op Hom kan staat maak.
‘n Mens verstaan nie altyd hoekom sekere dinge gebeur nie en ons kan nie altyd die wyse waarop dinge ontvou, begryp nie.
Kyk, ek is die laaste mens wat kan sê ek het ‘n volmaakte verhouding met God. Ons pad saam was al wankelrig, dis vir seker.
Maar die feit dat ek nog om ‘n etenstafel met my absolute onstabiele, gek, maar wonderlike en liefdevolle (volledige) gesin kan sit, is ‘n tipe magic wat dood eenvoudig net hemels is.
Nie almal is so gelukkig soos ek nie. Baie mense moes al hul mense aan kanker afstaan.
Ons het geen beheer oor wanneer die tyd met ons geliefdes einde se kant toe staan nie, so wees lief vir mekaar; sommer baie.
– Liezl Temmingh is ‘n joernalis vir Nuus24. Jy kan haar hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Liezl
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.