Met plekname is die ANC die pad byster
2010-10-15 07:55
Plekname is baiekeer meer as bloot die name van plekke. Dit bevat dikwels iets emosioneels, iets van die geskiedenis, iets ondefinieerbaars wat aan jou hartsnare vat.
Daarom doen dit iets aan my Afrikanerhart om te lees dat meer as ’n derde van die 328 naamsveranderings sedert 2000 juis Afrikaanse name betref. (En, asseblief, voordat die polities korrektes nou weer alle fiole van toorn oor my kop uitgiet, daarmee wil ek nie sê dat Afrikaanssprekende nie-Afrikaners geen emosionele gevoelens oor sulke name kan of behoort te hê nie.)
Die meeste van dié name was luidens ’n berig bloot beskrywende Afrikaanse woorde soos Wolwekraal en Treurrivier, en hulle het selde na politieke leiers of gebeurtenisse verwys.
Plekname is nie net in Suid-Afrika ’n omstrede saak nie. Europa loop oor van dergelike voorbeelde.
In die geskiedenis het dit herhaaldelik gebeur dat grense deur oorloë en verowerings verskuif is, en dan het die nuwe bewindhebbers dikwels bestaande name óf verander óf in hul eie taal vertaal. Die berugste voorbeeld is waarskynlik die Poolse dorpie Oswiecim, wat in 1939 deur die invallende Duitsers beset is en toe ’n naam gekry het wat tot in die lengte van dae deur die geskiedenis sal weerklink – Auschwitz.
Die stad Lemberg, voor 1918 deel van Oostenryk-Hongarye, is ná die Eerste Wêreldoorlog aan Rusland oorgedra en het die naam Lwof gekry. Met die onafhanklikwording van die Oekraïne in 1991 is die naam vertaal in die plaaslike dialek, en nou is dit Lwif.
Königberg, die hoofstad van die voormalige Oos-Pruise, is in 1945 deur die Russe geannekseer en heet nou Kaliningrad. Die Duitse Breslau in Silesië het in 1945 die Poolse Wroclaw geword; die Oostenryks-Hongaarse Bozen was ná 1918 die Italiaanse Bolzano.
En so kan ’n mens voortgaan.
Dié naamsveranderings het sonder uitsondering met aansienlike emosionele pyn gepaard gegaan, ook omdat dit soms met etniese suiwering verbind is. Die getal Duitsers wat vandag nog in byvoorbeeld Kaliningrad of Wroclaw woon, kan waarskynlik op die vingers van een hand getel word; die res is indertyd met groot geweld verdryf.
In ander gevalle mog die oorspronklike bewoners daar bly, maar moes hulle hulle in alle opsigte aanpas.
In Suid-Tirool, die stuk van Oostenryk wat in 1918 amper per ongeluk aan Italië oorgedra is – dit is waar Bozen/Bolzano lê – is die mense dekades lank verbied om hul Duitse dialek in die openbaar te praat of Duitse name te hê. Vandag nog kan jy op grafstene sien hoe die naam van ’n oorledene (byvoorbeeld Franz) uitgekrap en deur Francesco vervang is.
Veral ná 1945 het wyse regeerders ingesien dat die gedwonge verandering van plekname ’n aweregse uitwerking op die lojaliteit van die bewoners het, en ’n nuwe benadering is aanvaar. Ry ’n mens byvoorbeeld in die uiterste suidooste van die huidige Duitsland, naby die Poolse en die Tsjeggiese grens, sien jy iets besonder interessants.
Dan kom jy op ’n plaaslike pad byvoorbeeld af op ’n bordjie wat jou vertel dat jy hier regs na die stad Cottbus moet draai, wat 18 km ver is. En onder die naam “Cottbus” staan “Chósebuz”.
Die streek word bewoon deur ’n etniese minderheid, die Sorbe, wat ’n Slawiese taal praat. Hulle het die reg op eie skole, nuusblaaie en selfs ’n eie radiostasie.
Die padbordjie is die praktiese manifestasie van die verdraagsaamheid wat die Duitse staat teenoor etniese minderhede aan die dag lê.
En, laat ’n mens maar effens sinies daaroor wees, dit gaan nie bloot daarom om lief te wees vir die minderheid nie; dit gaan om die binding van die minderheid aan die staat, om die mense se lojaliteit.
Jy kan as owerheid verskeie benaderings teenoor minderhede hê. Jy kan, soos die eertydse kommunistiese diktature in Sentraal- en Oos-Europa, die minderheidsregte in teorie erken en in die praktyk ignoreer; jy kan, soos in Afrika, minderheidsregte heeltemal ontken; jy kan, soos in die moderne Europa, erkenning daaraan gee en die minderhede só aan die staat bind.
Dis duidelik dat die ANC nie die vaagste benul van sake het nie.
– Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Leopold
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.