Kultuur van onbekwaamheid in SA gekweek
2013-02-28 07:59
Een van die “voordele” daarvan om elke dag met die Gautrein werk toe ry, is om na ander se gesprekke te luister.
Gisteroggend het een gesprek my aandag onmiddellik getrek: 'n Vrou spog oor hoe sy pas bevorder is tot “projekbestuurder”. Sy vertel hoe sy nie eintlik verstaan wat die pos behels nie, maar bly is sy het die werk gekry.
Natuurlik het my mond behoorlik oopgehang, maar ek het vinnig onthou dat dit eintlik ’n baie algemene verskynsel in Suid-Afrika is.
Vroeër vandeesweek is die bekwame DA-burgemeester van die Tlokwe-munisipaliteit uit haar pos verwyder om plek te maak vir ’n ANC-burgemeester, Maphetle Maphetle. Hierdie is die einste burgemeester wat verlede jaar weens ’n mosie van wantroue uit sy amp geskop is.
In watter vooruitstrewende land word ’n bekwame amptenaar uit haar pos verwyder om plek te maak vir iemand onder wie se leiding bewerings van finansiële onreëlmatighede hoogty gevier het?
Ons minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se nimmereindigende handboek-skandaal in Limpopo haal weekliks koerantvoorblaaie. Verlede jaar se nasionale assesseringsresultate (oftewel ANA) is deur kritici as “skokkend” beskryf nadat graad 9-leerlinge ’n gemiddeld van slegs 13% in Wiskunde behaal het – een van die laagste syfers ter wêreld.
Voorbeelde van onbekwame amptenare in hoë poste is legio. Dink maar net aan die voormalige hoofde van die SABC, SAA en die SAPD. Dan praat ons nie eens van die president se huis in Nkandla wat belastingbetalers miljoene rande kos nie. Die koor van kritiek het hier ook op dowe ore geval.
As amptenare in hoë poste in die meeste ander onwikkelde of selfs ontwikkelende land met gesonde demokratiese beginsels só swak presteer, van korrupsie beskuldig word of bloot nie hulle werk behoorlik doen nie, word hulle summier uit hul pos geskop. Pres. Obama van die VSA sou byvoorbeeld nooit ’n Nkandla-skandaal oorleef het nie.
Hier in Suid-Afrika doen ons egter dinge anders. In dié land van melk en heuning vir die uitverkorenes, beloon ons eerder sulke gedrag met ’n kloppie op die skouer. As jy aan die regte politieke party behoort, die regte velkleur het, of vriende of familie in topposte het, lê die goue paadjie van sukses oop voor jou.
Opposisiepartye en burgeregteorganisasies kan maar onreëlmatighede aan die groot klok probeer hang; dit word bloot geïgnoreer. Dit is asof Suid-Afrikaners so gewoond geraak het aan onbekwaamheid dat ons dit byna as die norm aanvaar. Vir te lank blaai die meeste landsburgers verby sulke berigte. Ons aanvaar dit gedweë.
Die probleem hiermee is dat dit ’n kultuur van onderprestasie en middelmatigheid skep. Hoe minder mense hoef te gee, hoe minder word gegee. In hierdie negatiewe siklus leer ons kinders dis nie nodig om hard te werk om ’n goeie opvoeding te kry nie. Jy sal sukses behaal solank as wat jy die regte (politieke) deuntjie sing.
Met rolmodelle soos Angie Motshekga en Maphetle Maphetle, hoe dan nou anders? As hulle kan wegkom met onbekwaamheid, hoekom nie Jan Alleman ook nie?
– Joshua Carstens is ’n joernalis en skrywer. Besoek sy blog by www.joshuacarstens.blogspot.com, en volg hom op Twitter (@Joshuacarstens).
Stuur jou kommentaar aan Joshua
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.