Dié kaal keiser dreig, manipuleer
2013-01-31 07:09
Ek kon die afgelope twee weke nie help om te dink aan die kindersprokie oor die keiser wat kaal in die strate geloop het nie. Hy was hoogs in sy skik met sy “deurskynende” uitrusting, en al het sy onderdane geweet hy is kaal, moes hulle stilbly uit vrees dat hulle hul werk gaan verloor.
Dié gedagte is nie sommer ’n hunkering na ’n kinderfantasie nie, maar soos die dramaturg Bartho Smit in 1977 in sy politieke satire Die keiser die sensuur van die NP-regering met dié sprokie vergelyk het, kan ons vandag amper dieselfde met die ANC doen.
FNB se apologie aan die regerende party oor sy You Can Help-advertensieveldtog laat my wonder of die ANC nie “kaal” in die strate van Suid-Afrika loop nie en ons almal te bang is om dit vir hom te sê nie.
Die bank is beskuldig van iets “wat aan hoogverraad grens”, terwyl Gwede Mantashe dit duidelik gemaak het dat die ANC nie langer sake kan doen met ’n instansie wat die party "probeer ondermyn" nie.
Hier was natuurlik nie net ’n paar randjies ter sprake nie. Ongeveer 1,2 miljoen ANC-lede se ledegeld word in ’n FNB-bankrekening gehou. Met daardie som geld ter sprake sal enigiemand ’n wag voor sy mond plaas.
Vandeesweek het dit aan die lig gekom dat die kinders in die advertensie ’n voorgeskrewe teks gevolg het – en dit het die ANC net nóg skietgoed gegee. Maar soos die Engelse uitdrukking lui: so what? Solank FNB nie diskriminerend opgetree het of die grondwet verontagsaam het nie, het hulle net hul mening gelewer. Ek sal my linkeroor daarop wed dat die Uitsaaiklagtekommisie geen fout sal vind as ’n klag ingedien word nie.
Vir te lank word landsburgers, organisasies en maatskappye soos FNB se monde gesnoer. Die media se ink moet met die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting opdroog en struggle-helde soos Mamphela Ramphele wat die ANC kritiseer, word gou na die kantlyn geskuif.
Dis kommerwekkend dat ’n politieke party soveel mag het en ’n houding van stem-saam-met-ons-of-ons-gaan-die-lewe-vir-jou-baie-moeilik-maak vrylik oorheers. Enigiemand wat dit durf waag om die regering te kritiseer, word summier gedreig.
Een van die hoekstene van ’n gesonde demokrasie is die element van konstruktiewe kritiek. As niemand die regering se foute en probleemareas mag uitwys nie, hoe gaan hy dit regstel en verbeter? Hoe gaan ons ooit vorentoe kan beweeg as ons niks mag sê sonder om te wonder of dit ons ons werk of besigheid gaan kos nie?
Ek gaan seker ’n paar mense ontstel as ek sê die situasie lyk al meer na ’n terugkeer na drakoniese sensuurwetgewing wat onder apartheid toegepas is. Ja, miskien nie tot die mate waar mense in die tronk gestop word as hulle kritiek lewer nie, maar om finansiële manipulasie toe te pas, is bloot ’n ander soort tronkstraf.
Dalk moet ons nie net vir onse regering wys hy loop kaal nie, maar hom sommer ook uitlag. Dis immers ’n skande om sonder klere in die strate te loop.
– Joshua Carstens is ’n joernalis en skrywer. Besoek sy blog by www.joshuacarstens.blogspot.com, en volg hom op Twitter (@Joshuacarstens).
Stuur jou kommentaar aan Joshua
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.