Goeie onderrig verg ook respek
2012-02-07 08:02
"Haal jul hoed van jul kop af,” het ek drie tweedejaarstudente aangesê voordat ek sou begin klasgee.
Die reaksie was interessant. Hulle het hul pap hoed afgehaal, stadig by hul gesig verby laat sak, en hul lyf vooroor na hul skoot gebuig. As hulle die hooftooisel vinnig verwyder het, sou dit ’n aanduiding gewees het van ’n oorgretigheid om die opdrag van ’n volwassene uit te voer – ’n handeling wat beslis nie cool is in die wêreld van dié wat tussen die tienderjare en volwassenheid vasgevang is nie.
Om eerlik te wees: Ek gee nie ’n bloue duit om of ’n student ’n lesing bywoon met ’n hoed op die kop nie. Maar in ’n nasionale kultuur met weinig ontsag vir onderrig en leer, moet ’n mens daardie kultuur vestig deur die handhawing van ’n eenvoudige klasroetines.
“Haal af jou voete van die stoel voor jou.” En: “Sit asseblief regop.” Hulle is jou ter wille, maar met stadige bewegings.
Studente wat na die universiteit kom, is dikwels afkomstig van skole waar hulle kon maak wat hulle wil. Skole waar die onderwysers klokslag laat is, waar huiswerk nie nagesien word nie, waar gebreekte ruite nie vervang word nie, waar onderwysers met skoolmeisies flankeer en saam met skoolseuns drink. Ek sien dit só dikwels dat die skokkendheid daarvan my nie meer ontstel nie.
Sulke leerders kom dan by ’n universiteit aan met dieselfde oneerbiedigheid teenoor onderwys. Tensy hulle streng vasgevat word, sal hulle dieselfde middelmatige akademiese resultate behaal en dieselfde sosiale gedrag openbaar.
’n Universiteit is ’n plek waar ’n mens logika eerder as vuiste en woede laat hoogty vier. Ek moes dus aan die studente verduidelik waarom dit belangrik is dat hulle hul hoofbedekking verwyder en regop sit. “Wanneer julle gewoon ’n klaskamer binnestrompel en doen wat julle wil, minag julle die leerproses, nie my as jul professor nie.”
Dit is ’n vreugde om te werk met studente wat hierdie ouwêreldse gewoontes van respek vir ’n onderwyser en die onderwys aangeleer het.
Hierdie gewoontes begin stadig maar seker deur die studieterrein versprei. Wanneer dit gebeur, word onderrig versterk en leer vergemaklik. Die aanleer van die vaardigheid van gedissiplineerdheid is slegs een oogmerk van skool- of universiteitsonderrig. Die ander is om te leer hoe om in die wêreld te wees, en dít kan nie geleer word deur modules oor goeie burgerskap of lewensoriëntering nie. Die kragtigste onderrig op skool of aan die universiteit vind plaas buite die kurrikulum en in die alledaagse roetines van ’n opvoedkundige instelling.
’n Onderwyser wat konsekwent in die klaskamer is voordat die leerders opdaag, stuur ’n sterk boodskap uit oor toewyding en koersvastheid. Geen kurrikulum kan dit oordra nie. ’n Skool wat sy stukkende ruite herstel, stuur ’n onvergeetlike boodskap uit oor omgee en sindelikheid. ’n Onderwyser wat huiswerk tydig terugbesorg én terugvoer verskaf, wek by leerders ’n gevoel van meelewing met en ontferming oor hul toekoms.
Die meeste dissipline-probleme wyk wanneer die roetines van respek gevestig is, want jy hoef beslis nie dié waardes by kinders in te moker nie.
Maar skole en universiteit kan dit nie alleen doen nie. Ons het ouers nodig wat die voorbeeld stel van hoe om op te tree met betrekking tot die leerproses. Weet gerus dat ek terdeë besef hoeveel stof tot dankbaarheid ek het jeens my ouers, wat my hierdie waardes geleer het: As die son opgekom het, moes jy op wees. Komberse sou van jou en jou bed afgepluk geword het as dit nie die geval was nie, ongeag of dit vakansie of naweek was. Totale vreemdelinge moes as “oom” en “tannie” aangespreek word. Nog voordat ’n gas in ons huis gaan sit het, moes die ketel aangeskakel gewees het.
Waaroor het dit gegaan? Oor leer hoe om op skool, aan die universiteit en in die gemeenskap op te tree en te leef.
– Oorspronklik verskyn in Die Burger.
Stuur jou kommentaar aan prof. Jansen
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.