Agt redes vir ’n lewe sonder palmbome
2012-02-01 07:19
Oom Trossie is ’n botaniese rassis.
Palmbome en petunias, maar verál palmbome, dié haat hy met ’n passie van patologiese omvang.
“In my boekies is dit ’n áártssonde om ’n boom af te kap,” sê hy, “maar nag ná nag droom ek hoe ek met ’n byl of kettingsaag woude van hierdie blessitse verskonings vir bome in hul maai stuur.” Tina Turners, noem hy hulle, vanweë “hul te lang lywe met die belaglike bosse blare aan die bokant”. Of “uitheemse indringers wat net slapgat staan en wieg in die sedoos”. Of, wanneer sy wrewel kookpunt bereik, “nikswerd robbies waarvoor hulle maar die doodstraf kan terugbring”.
O waarom, murmureer oom Trossie, slaan dié pogings tot ’n eksotiese atmosfeer oral uit? Die laaste voorstedelike siersteen is skaars gelê of die eerste palm maak sy opwagting. Selfs boere draai hul rug na doringbome en wend hulle tot lanings van dié gedrogte om godverlate vlaktes groener te laat lyk. En kreatiewe tuiniers transformeer, tydskrif onder die blad, ’n kaal kol in die tuin tot ’n “private tropiese toevlugsoord”. Immer in ’n japtrap, immer moeiteloos, immer immergroen – dis die mantra van die palmboom. “Is daar nog ’n boom wat die naam boom so onwaardig is?” daag oom Trossie jou uit.
“Wat van die soorte wat ons nodig het vir kokosneute en...dadels! Ja, wat van dadels?”
“Het jy al geruik as die vrugte op die grond beginne vrot en muggies en vlieë lok? En vlermuise! As húl appelkoosmae eers beginne loop, sal jy nooit weer paint stripper vir jou huis of jou kar nodig hê nie!” En só begin oom Trossie die redes op sy vingerpunte aftel. Een: hulle is lelik en kitsch. Twee: Haas die hele gespuis, behalwe Phoenix reclinata, die wildedadelboom, dink ek, is uitheems. Drie: Meestal pas hulle nie in by die huis of die tuin nie, en hulle lyk ook net ’n paar jaar lank skaflik voordat die blare of vrugte mense begin irriteer.
“Vier-vyf-en-ses: In hierdie land waar die son ons nog gaan vrekbrand, kan jy nie eens in ’n verdomde palmboom se skaduwee sit, in hom klim of ’n boomhuis daarin bou nie. Sewe: Die keer toe ek en jou tant Mokkie in Mauritius was, was hulle gedurig in die pad as ons die sonsondergang wou afneem. En agt: Blykbaar val kokosneute omtrent 150 mense per jaar dood – veel meer as wat deur haaie doodgebyt word.”
Oom Trossie sprak g’n sprook oor die love palm nie. ’n Klompie jaar terug het hy pleks van ’n verjaardagruiker vir wyle tant Mokkie ’n “plant of ’n boom of ’n ding” by die bloemiste bestel, en voordat hy sy oë kon uitvee, het ’n palmboom onder sy eie dak gestaan.
“Wat het van die tannie se love palm geword, Oom?” Oom Trossie kry ’n veraf dog onmiskenbaar skuldige kyk in die oë. “Soos die vrou het die love palm dit op die ou end nie gemaak nie,” sê hy.
- Oorspronklik verskyn in Die Burger
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.