'n Westerling in murg en been?
2012-07-10 08:04
As dit nie was vir die veralgemening wat 'n erudiet onlangs in my geselskap kwytgeraak het nie, het ek nooit besef ek is eintlik swart nie.
"Nee, sien," het hy gesê: "swart mense plaas nog maar verskriklik baie klem op die waarde van die stam, eerder as die individu. Ons in die Weste beskou die enkeling as belangrik. Vir hulle gaan dit eerder oor die beginsel van ubuntu – oor die gesondheid en stabiliteit van die eenheid. En erge respek vir gesagsfigure soos die hoofman."
Tot op daardie oomblik het ek geglo ek is wit. 'n Westerling in murg en been – dalk nou nie so stil soos Samantha Vice my wil hê nie – maar wit nietemin. Niks is ek aan niemand verskuldig nie, het ek geglo; ek is nie 'n tropdier nie, maar ’n rasionele individu. Die wysgeer se wyshede het egter hierdie skille van my oë gestroop.
Hy het my herinner aan my universiteitsdae, toe ek in 'n manskoshuis gewoon het en jaar na jaar moes aanskou hoe die huiskomitees dit by die eerstejaars inhamer dat die huis heilig is. Patriotisme is by hulle ingedril tot hulle dit in hul slaap op die wysie van die huislied kon herhaal. Die huis se lof is bo alle ander dinge besing, want die huis moes triomfeer. Die huis se naam moes intak bly. Die huis se eer kon nooit in gedrang kom nie. Die huis was alles, die individu niks.
Og, het ek gedink terwyl die erudiet my oor Afrika-kultuur touwys gemaak het, waar is daardie glorieryke dae heen! Die dae toe almal aan dieselfde aktiwiteit moes deelneem bloot omdat dit die wil van die kollektief was. Die dae toe enigiemand wat dit verkies het om eerder in sy kamer te sit en lees of navorsing doen uitgekryt is as 'n "sluiper". Die dae toe minderes nog minderes was en seniors gerespekteer is om geen ander rede nie as dat hulle senior was.
Nou, nadat dit alles verby is en ek mense in die werkplek op gelyke voet tegemoet moet kom, besef ek eers hoe verknog aan die kollektief ek werklik is. Al my strewes, al my drome, alles wat ek as enkeling wou wees, kon nooit tred hou met die magtige dreuning van die vaderlike kollektief waaraan ek vir jare behoort het nie.
Yl ek? Nee. Maar ek sal lewe en ek sal sterwe vir my huis, vir die manne, vir die rugby, vir die eenheid, vir die kameraderie. Ek sal bymekaar bring wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Ek sal my huis tot die dood respekteer, al beteken dit ek moet my eie identiteit verloor, niks anders as my koshuisbaadjie dra en almal van ander huise verafsku nie.
Hoe verklaar ek dit? Hoe moet ek my respek vir gesagsfigure soos huiskomiteelede of lede van akademiese prosessies en my slaafse navolging van groepsgedrag verstaan? Hoe moet ek die mate waarin ek tot vandag toe warm onder die kraag raak wanneer iemand my koshuis beledig, begryp?
Maklik.
Ek is swart.
Volgens die erudiet wat vandeesweek met my gesels het, is swart mense eintlik verskriklik verknog aan die gesondheid en stabiliteit van die kollektief en het hulle erge respek vir gesagsfigure soos huiskomiteelede en akademiese prosessies vir wie jy sonder enige nugtere rede moet opstaan.
En hy's reg, jy weet? Hy't 'n doktersgraad in Volkekunde en als.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.