’n Pluimpie vir Solidariteit
2011-11-29 07:31
Solidariteit verdien 'n pluimpie vir hul jongste inisiatief.
Die inisiatief behels die oprigting van ’n private tegniese kollege in Pretoria (tans bloot “Die Kampus”) waar Afrikaanse jongmense die geleentheid sal kry om tegniese vaardighede in hul moedertaal aan te leer.
Daar is natuurlik ’n paar dinge waarmee ’n mens kan fout vind by so ’n projek. Hul voorgenome taalbeleid sluit die meerderheid van Tshwane se jeug (wat dit broodnodig het) uit. Hulle span nasionale werkloosheidsyfers in hul retoriek ter ondersteuning van die projek in, maar versuim om te verduidelik hoekom hulle diegene wat die grootste gros van daardie syfers uitmaak, eenvoudig ignoreer. Hiernaas span hulle NP van Wyk Louw op ’n ietwat...studentikose manier in vir ’n bemarkingsvideo.
Ironies genoeg is dit juis hierdie bemarkingsvideo wat die res van die kwessies oorskadu, omdat dit simbolies is van die nie-rassigheid wat Suid-Afrika nastreef.
Apartheid het heelwat onsigbare absurditeite by ons breinlobbe ingehamer – dinge wat so diep onder die oppervlak van ons samelewing lê dat ons meestal nie eers daarvan bewus is nie. Een hiervan is die idee dat sekere velkleure inherent verbonde is aan sekere plekke in die arbeidsmark en daarom ook sekere range op ’n klassesisteem moet beklee.
Wit mense word byvoorbeeld steeds beskou as mense wie se kinders universiteit toe moet gaan en ten minste rekenmeesters, prokureurs of dokters moet raak. As ’n wit mens nie hierdie sosiale teikens haal nie, word hy of sy as ’n arm blanke beskou – as iemand wat dit nie heeltemal “gemaak” het as ’n wit persoon nie. Loop so ’n persoon dan boonop in gehawende klere by stopstrate rond, dink ander wit mense waarskynlik: eisj, shame! Wat is sy storie? Waar kom hy vandaan? Wat het dan verkeerd geloop in sy lewe?
Dieselfde kan ongelukkig nie gesê word van nie-wittes nie. As bogenoemde bedelaar swart is, is die reaksie dikwels eerder nonchalant. Die bedelaar is dan net nóg ’n irritasie, net nog ’n ongemaklikheid om geïrriteerd te ignoreer en so vinnig moontlik te probeer ontwyk met vernuftige koppelaarbeheer.
Sit swart mense langs die pad en wag vir beter dae, is dit vir ons samelewing normaal. Sit ’n spul wit mense agter op ’n bakkie in tuiniersklere, gaap ons hulle aan.
Die malle voorveronderstelling wat steeds in die Suid-Afrikaanse samelewing heers, is dat wittes witboordjie-werkers behoort te wees en nie-wittes blouboordjie-werkers.
Solidariteit se bemarkingsvideo vir “Die Kampus” breek hierdie voorveronderstellings af. Dit vertoon eerder ’n oorgrootte meerderheid wit jongmense wat almal stereotiepe “swart” en “bruin” werke doen. Hulle is nie kapitaliste nie – hulle besit nie produksiemiddele nie, maar swoeg eerder daarmee in die sweet van hul aangesigte. Hierdie jongmense sweis, bedraad, saag, timmer, skuur en smelt in blou oorpakke in omgewings wat Verwoerd sekerlik nie vir hulle in gedagte gehad het toe hy destyds apartheidswette geteken het nie. Hulle is blouboordjie-werkers en glad nie skaam daaroor nie.
In hoe ’n mate dit gaan bydra tot die res van die nie-Afrikaanssprekende bevolking is onduidelik, maar op ’n vreemde manier is die wyse waarop Solidariteit pragmaties standpunt inneem dat niemand te goed is vir harde werk nie vir my amper genoeg. As hulle met hierdie kollege kan help om die gemors wat apartheid ons nou nog laat glo af te takel, dan is dit die R150 miljoen wat hulle tans probeer insamel dubbel en dwars werd.
- Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.