'n Dubieuse ding...
2010-10-29 07:46
Suiwer Afrikaans is so 'n...dubieuse ding.
Neem die woordjie "dubieus". Baie Afrikaanssprekendes sal heftig kapsie maak teen die gebruik van die woord, omdat dit vir hulle baie soos die Engelse "dubious" klink en hulle van kleins af geleer is dat anglisismes 'n euwel is.
In werklikheid stam "dubieus" van die Latynse woord "dubiosus" (‘n afleiding van die Latyn "dubium") af. Dié het om die beurt in Nederland onder Franse invloed die agtervoegsel "-eus" bygekry. Ook die Engelse "dubious" soos ons dit vandag ken, stam uit die Ou-Frans "doter” (twyfel / om twyfelagtig of bang te wees).
As ‘n mens dus tegnies wil raak, is die Afrikaanse gebruik van die woord “dubieus” nie ‘n Anglisisme nie, maar ’n Gallisisme.
Oor Gallisismes kla niemand nie. Slegs teen Engelse invloede word daar sterk walgegooi. Dis natuurlik ironies, aangesien Engels, nes Afrikaans, ‘n Germaanse taal is. Trouens, wanneer woorde uit ander Europese tale gebruik word, word dit deur baie Afrikaanssprekendes as formeel of hoogdrawend geag.
Om ‘n vrou byvoorbeeld ‘n “femme fatale” (Frans) te noem, ‘n situasie “überhaupt” (Duits) in oënskou te neem of ‘n “ad hoc”-vergadering (Latyn) byeen te roep, is vir die meeste taalpuriste heel toelaatbaar. Laat iemand egter net verklaar: “Ek het actually nogal baie van daai movie gehou, al was die musiek besonder crap” en al wat ‘n taalstryder is, kry ‘n liesbreuk. (Ook woorde in Afrikaans met invloede uit Afrika en Asië – waarvoor ‘n mens ten minste ‘n sterker saak van kontaminasie sou kon maak – ontglip die meeste mense wanneer hulle oor Engels kla.)
Teenkanting teen Engels is natuurlik te wyte aan die kolonialistiese rol wat Brittanje vir jare aan die onderkant van Afrika gehad het. ‘n Paar edikte hier, ‘n paar konsentrasiekampe daar en siedaar: Engels is die satan self. Al besef mense dit nie altyd nie, is die wekroep om suiwer Afrikaans te praat daarom nie ‘n taalkundige nie, maar ’n politieke een. ‘n Taalkundige of wetenskaplike saak vir suiwer Afrikaans kan daar nie wees nie, omdat Afrikaans (soos alle tale, eintlik) as ‘t ware ‘n baster is en taalwetenskap altyd deskriptief eerder as preskriptief is.
Afrikaans is maar een van die vele permutasies van die Gemeengermaans wat eens op ’n tyd in Europa gepraat is. Dis nie heilig nie. Dis nie suiwer nie. Dis kommunikatiewe gereedskap wat konstant ontwikkel en verander – iets wat gebruik eerder as opgepiep moet word.
Dieselfde geld vir Engels: dis nie boos nie, dis nie onrein nie. Toutatis vermoor nie ‘n klein katjie elke keer wat ‘n Angelsaksiese woordjie in ‘n Afrikaanse sin gedruk word nie.
Om aan te dring op suiwer Afrikaans is enigiemand se reg, maar pogings om ‘n taalkundige argument daarvoor te probeer maak, sal altyd uitloop op dubieuse pseudowetenskap.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.