'n Dekade soos geen ander
2010-01-21 08:23
2000 tot 2009 was 'n vreemde dekade.
Wanneer dit met vorige dekades vergelyk word, lyk dit met die eerste oogopslag heel normaal. Hier was 'n tsunami, daar 'n oorlog in die Midde-Ooste, hier 'n ekonomiese krisis, daar boeings wat Amerikaanse wolkekrabbers ineen laat stort. Net soos in vorige dekades het mense nuwe maniere ontwerp om mekaar uit te moor, nuwe massamoorde in die naam van 'n groter saak gepleeg en by die massas vergaan tydens natuurrampe en aan siektes.
'n Pandemie hier, pandemonium daar en siedaar - nog 'n gemiddelde tien jaar waartydens niemand mekaar werklik kon verdra nie (en Afrika steeds aan die kortste ent getrek het).
Dit is hoe dit aanvanklik lyk, in elk geval. By nadere ondersoek blyk dit dat iets tog verander het, naamlik: die tempo waarteen en wyse waarop ons mekaar van hierdie doodnormale omstandighede laat weet het.
As Saddam Hussein in die 1990's tereggestel is, sou die wêreld daarvan hoor en lees op televisie, oor die radio en in koerante – en daar sou dit stop. ‘n Gesinstydskrifte of twee sou dalk ‘n paar weke later ‘n in-diepte storie daaroor publiseer, met een of twee korrelrige, laeresolusie-foto’s om daarmee saam te gaan, maar veel meer sou niemand ooit weet nie. ‘n Filosoof soos Baudrillard (rus sy siel) sou sy vinger waarskuwend swaai en aan die mensdom seg: “pasop, die werklikheid het ‘n simulasie geword. Julle sien slegs wat vir julle vervaardig word”. En niemand sou hom hoor nie.
Omdat dit egter in 2006 gebeur het, is die hele proses op video vasgevang deur een van die wagte by die teregstelling (wat iets so eenvoudig soos sy selfoon se kamera gebruik het) en ongesensor deur miljoene mense regoor die wêreld gesien. In die gemak van ons eie huise, voor ons eie rekenaars, besig om aan ons eie oorskietkos te smul, kon almal wat wou kyk hoe Saddam Hoessein soos 'n dier aan 'n galg roggel.
Toe ‘n verwoestende aardbewing 186 000 huise in Lijiang, China in 1996 verwoes het, was dit dieselfde storie – ‘n paar nuusberigte hier, ‘n paar foto’s daar en siedaar – dit was al wat die wêreld ooit sou weet. Skaars 'n paar uur nadat verwoestende aardbewings Sichuan, China egter meer as ‘n dekade later in 2008 getref het, was daar 'n volledige bladsy met inligting oor die ramp op Wikipedia beskikbaar, waarby besonderhede deurgaans bygevoeg is soos dit bekend geraak het. Mense het foto’s en video’s en tweets regstreeks die kuberruim ingestuur. Geen mediamaatskappy het die inligting gefilter nie – dit was daar vir enigiemand om te verbruik soos hulle wou.
Insgelyks: as jy in 1990 wou weet waar Amerika, Rusland of Noord-Korea hul kernwapens bêre, sou jy bloot kon spekuleer. 'n Dekade later is al wat jy hoef te doen om een van die vele lyste van die internet af te laai en op Google Maps daarna te gaan kyk.
Etcetera.
In die afgelope dekade het ons weliswaar so afhanklik geraak van ons inligtingstegnologie, dat ons onsself nouliks 'n lewe daarsonder kan voorstel. Dit het die onmiddelike versprei van inligting so maklik en so vanselfsprekend gemaak, dat ons dit vreemd ag as dit nie dadelik kan gebeur nie. Skaars twintig jaar gelede sou iemand vir jou lag as jy onthuts iets sê soos: “My SMSe het TIEN MINUTE geneem om deur te gaan op Kersfees!”. Vandag is tien minute primitief stadig.
Die eerste dekade van die een en twintigste eeu was 'n vreemdsoortige tydperk waartydens ons geleer het om ‘n oorvloed regstreekse indrukke van die mens se wreedste lyding en hoogste prestasies te beleef, nonchalant “meh” te sê en na die volgende webblad te navigeer.
So much for the simulacra.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.