'n Dag soos geen ander
2009-12-10 08:43
Kersfees maak my hartseer.
Dit is 'n tydperk waartydens almal vriendelik en vrolik is en daar in oorvloed geëet en gedrink word. Dit is 'n fees van onvoorwaardelike liefde en deernis, van empatie en goedwilligheid. Wanneer Kersfees aanbreek, glimlag mense wat normaalweg verby mekaar sou loop vir mekaar in die strate en krap mense wat normaalweg nie aan 'n Bybel sou raak nie in die sinoptiese evangelies rond op soek na spirituele lafenis.
Klein wonderwerkies gebeur. Op Kersoggend is andersins leë kerkbanke propvol. Glimlaggende predikers herinner gemeentes wêreldwyd aan die blye tyding dat 'n Kindjie eens om hul heils ontwil gebore is en dat hulle die Kindjie se filosofie van naasteliefde hul eie moet maak. Mense wêreldwyd berou hul sondes, kom tot inkeer, vind vergifnis. Kerkgangers bid en sing saam, soengroet mekaar, wens mekaar 'n geseënde dag en 'n voorspoedige nuwejaar toe. Gemeenskappe word in solidariteit saamgesnoer, sosiale klasordes verval; die leeu lê langs die lam, die kreasionis eet saam met die ateïs.
Wanneer Kersfees aanbreek, koop mense vir mekaar geskenke uit liefde, al verdien hulle dit nie. Hulle doen moeite om by familielede te gaan kuier wat hulle normaalweg sou afskeep en gesels met hulle oor meer as net die weer. Kinders hardloop laggend in sitkamers oor afgeskeurde geskenkpapier rond en bewonder kersbome vol versierings en liggies. Poeding word opgeskep en uitgedeel. Daar word rustig besin oor die jaar wat verby is en die jaar wat kom. Grappies word gemaak.
Almal vergewe mekaar. Die geharwar van die daaglikse lewe stol. Motors, sperdatums en vergaderings word vervang met Kerskaartjies, SMSe en strelende musiek. Winkels maak vroeg toe, paaie loop leeg, geliefdes kom byeen en deel in 'n gees van welwillendheid. Kinders omhels hul ouers. Almal rus. Almal is gelukkig. Alles is warm en snoesig en spesiaal.
Op die een dag van die jaar waarop ons nie onsself is nie, is die wêreld bedaard.
Al die feesvieringe vier iets wat ons skynbaar nie regtig is nie. Dit herinner ons daaraan dat ons onvoorwaardelike lief het en deernis, empatie en goedwilligheid teenoor ons medemens betoon nie omdat ons werklik wil nie, maar omdat 'n kalenderdatum dit vir ons so dikteer. Al die geskenke, gesange, glimlagte en koekstruif is implisiet 'n erkentenis dat ons vir die oorblywende 364 dae van die jaar sal voortgaan om mekaar uit te buit, mekaar te beskinder, mekaar in die verkeer te vloek, mekaar se kinders met jaloesie sal bejeën, mekaar sal verneuk, mekaar sal verneder. Dat ons rondjaag en selfsugtig is en nie werklik oor mekaar omgee nie. Dat ons te dikwels eintlik maar net diere is.
'n Enkele dag van welwillendheid en vrede is nie vir ons net nog 'n normale dag nie, maar 'n massiewe aangeleentheid wat jaarliks met fanfare aangekondig word. So asof ons nie werklik daaraan gewoond is nie.
Kersfees maak my hartseer.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.