‘n Briefie aan Dana
2012-06-06 07:32
Beste Dana
Ek is 'n fên. 'n Grote. Ek lees jou stories met bewondering al sedert ek 'n laatie is. Daai een oor die tannie wat vra of dit nie dalk die fênbelt is nie, hartjie - dis een van my gunstelinge.
Jy het 'n unieke manier om mense en emosies vas te vang. Jou karaktersketse drup nie van byvoeglike naamwoorde nie. Hulle is bondig en onopgesmuk. Ek weet dit, jy weet dit en jou lesers weet dit: jy is vervlaks goed.
As ywerige Dana Snyman-leser was ek daarom 'n bietjie in die gesig gevat die afgelope tyd. Dit het gevoel asof jy my en die res van jou aanhangers se intelligensie 'n bietjie laag skat met die kwasi-gelowige inslag van jou bydraes.
Eers was Fanie "mos nou 'n ateïs". Toe kon die wetenskap ons nie "van die liefde leer" nie. Meer onlangs het jy 'n spieël voor dominee Eddie se neus gedruk, met 'n gevolglike storm in 'n teekoppie van al wat 'n eks-dominee is wat onder die indruk was dat hulle Eddie is.
Ek dink jy's eintlik nogal in die kol oor die dominee Eddies van hierdie wêreld. Hulle tree inderdaad 'n bietjie potsierlik op. Hulle gedigte is meestal nie juis iets oom oor huis toe te skryf nie (min gedigte is). Die manier waarop hulle ekspletiewe aaneenryg asof hulle dit nie gewoond is nie, is 'n bietjie kinderagtig en, quite frankly, irriterend.
Hulle is kwaad vir die kerk en hulle het duidelik issues. That much is obvious.
Wat nie so vanselfsprekend is nie, is dat daar 'n baie goeie rede is hoekom hulle nou so warm onder die kraag is vir volk en vaderland. Hulle druk hulself dalk nie so waffers uit nie, maar dit maak nie hul vrae minder geldig nie.
Jy maak op 'n kol sarkasties melding van Fanie wat nie meer gelowig is nie, net Richard Dawkins lees en sommer baie omgekrap is vir almal wat nie in natuurlike seleksie glo nie.
Het jy al vir Fanie gevra hóékom hy so kwaad is?
Sy greep op natuurwetenskaplike literatuur is dalk so flou soos dominee Eddie se gedigte, maar dit beteken nie een van hulle twee se woede is nie geregverdig nie. Luister so 'n bietjie na hulle. Jy raak dalk net self omgekrap.
Dis een ding om 'n spieël voor iemand met 'n balk in sy oog te hou. Dis iets heeltemal anders as jy die balk daar gaan staan en indruk het - of as jy klaarblyklik die instelling wat die drukwerk gedoen het in dieselfde asem verdedig.
Hierdie ouens is dalk 'n kramp in ons sitvlakke, maar hulle vra belangrike vrae. Karikature gaan dit nie laat verdwyn nie.
En terloops: die wetenskap kan ons baie van die liefde leer, kennis is nie kil nie en die uitspansel sal juis nié ophou om ver, woes en leeg te voel as jy eers geleer het hoeveel sterrestelsels daar in die waarneembare heelal is nie.
Ek sien uit na nog jare se meesterlike stories, Dana. Ek hoop net ek hoef hulle nie in CUM Boeke te gaan soek nie.
Yours truly
'n fên
n.s - Homeopatie is perdedrolle.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.