Wortels van ongelykheid lê diep
2011-10-25 07:40
"Wat het geword van jy moet werk vir wat jy wil hê in die lewe. Mens sal sweer die goed wat ons wittes het, het sommer net in ons arms geval."
Só reken ’n dame onderaan ’n vraag op MyNuus24 oor Malema se beplande “massa-optog vir ekonomiese bevryding”. Haar mening is een wat dikwels uitgespreek word deur ontevrede wit mense: dat hulle gewérk het vir wat hulle vandag besit en dat “al daai swartes” se armoede nie meer apartheid se skuld kan wees nie. Sewentien gelyke jare later, word daar geredeneer, kan arm mense se kwellinge alleenlik op hul eie ledigheid geblameer word.
Om so te redeneer, is om jouself blind vir die geskiedenis te hou.
Dit is nie te betwyfel dat die meeste wit mense hard gewerk het vir wat hulle vandag besit nie. Wit Suid-Afrikaners sê dit gewoonlik asof dit hulle edel van inbors maak, maar op die ou end is dit nie veel van ’n openbaring nie. Dit volg bloot uit die ooglopende feit dat hulle dinge besit. Besittings is gelyk aan geld is gelyk aan ’n inkomste is gelyk aan arbeid. Dis omtrent so min ’n verrassing as wat dit ’n verrassing is dat gemufde brood te lank op ’n rak gestaan het.
Wat die dame hierbo skynbaar nie besef nie, is dat wit mense wat vir dekades hard gewerk het, onderskraag is deur gunstige omstandighede wat kunsmatig vir hulle daargestel is. Hul ekonomiese welvaart is nie net te danke aan hul eie harde werk nie, maar ook aan wetgewing wat hierdie harde werk destyds onderskraag het en vergestalt is in alle sfere van die samelewing.
As jy wit is, is die kans byvoorbeeld goed dat jy na ’n goeie skool gegaan het. Hierdie skool was waarskynlik ook relatief naby aan jou huis. As dit ver was, het jou ouers jou daarheen gekarwei – jy hoef nie etlike kilometers te geloop het om daar uit te kom nie. By hierdie skool het jy sportvelde met groen gras en gekalkte lyne, goeie onderwysers, moedertaalonderrig, klaskamers met banke en skryfbehoeftes, ’n biblioteek, ’n snoepie, ’n spul kultuurverenigings en sportspanne gehad.
Wanneer jy smiddae by die huis gekom het, kon jy dit waarskynlik bekostig om jou huiswerk eers ’n paar uur uit te stel en eerder televisie te kyk. Daar was kragtoevoer en lopende water in jou huis. Jy het waarskynlik jou eie kamer gehad of dit, op die meeste, met een of twee sibbe gedeel. Groot dele van jou vrye tyd is nie daaraan spandeer om hout of water na jou woonplek aan te dra sodat jou familie kon kos eet nie. Jy het bloot die yskas oopgemaak en gevat wat jy wou hê.
Soms het jy soveel tyd op hande gehad dat kon kla: “ek is verveeld!”
Die strate rondom jou huis was geteer. Jy kon na hartelus daaroor ry met jou fiets, op groen, munisipale grasperke speel, die dorp se biblioteek sonder vrees besoek of in publieke swembaddens baljaar sonder om daar uitgejaag te word. Jou omgewing het jou in staat gestel om in ’n volronde mense te ontwikkel. Toe die grootmenslewe uiteindelik vir jou aangebreek het, was daar 'n gewillige arbeidsmark, reg om jou te assimileer.
Niemand het ooit die volgende oor jou te sê gehad nie:
"Daar is nie plek vir die Bantoe in die Europese samelewing bokant die vlak van sekere vorms van arbeid nie. Wat is die nut daarvan om vir die Bantoekind wiskunde te leer as dit nie in die praktyk gebruik kan word nie? Dit is heeltemal absurd."
Natuurlik het jy hard gewerk vir wat jy vandag het. Jou samelewing was stabiel. Jou maag was meestal vol. Jou opvoeding was eersteklas en jy was nie bestem vir ’n lewe van onderdanige hande-arbeid nie. Selfs al het jy arm grootgeraak, kón jy jouself uiteindelik afsloof in ’n kantoor, ’n korporatiewe leer klim of ’n eie besigheid begin indien jy so wou. Jou samelewing was gerat vir jou aspirasies.
Die mense wat met Malema identifiseer en van die uniegebou na die JSE gaan marsjeer, is die afstammelinge van mense wie se samelewing nooit gerat was vir hulle aspirasies nie. Hulle is vasgevang in ’n boosaardige kringloop van armoede en swak opvoeding waaruit ’n mens nouliks kan ontsnap. In vergelyking met hulle wit eweknieë het hulle ’n reuse agterstand op die ekonomiese speelveld wat baie moeilik oorbrug kan word – al is hulle hoe fluks en hoe ondernemend.
Om hulle bloot af te maak as ’n spul mense wat nie weet dat hulle moet werk om iewers te kom nie, is uiters onregverdig. Om boonop uit die samelewing rondom jou te kyk en dan af te lei dat wit mense van nature harde werkers is, is om die geskiedenis met opset te ignoreer.
Alles wat wit mense het, het inderdaad nie in hulle arms geval nie, maar dit is ook nie regtig die probleem hier nie, is dit? Dis eerder dat hulle hande nie agter hulle rûe vasgeketting was en hulle vir dekades gedwing was om geboë op hulle knieë rond te kruip nie.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
– Nuus24 publiseer hierdie week 'n reeks opinies oor ekonomiese ongelykheid in die aanloop tot die ANC-jeugliga se massa-protesaksie. Stuur jou mening vir publikasie na terugvoer@nuus24.com.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.