Wonders-kompetisie bloot 'n geldmaakfoefie
2011-11-15 07:51
Tafelberg is onlangs aangewys as een van sewe “wenners” in die sogenaamde New7Wonders-kompetisie.
Anders as wat duisende Suid-Afrikaners graag wil glo, is hierdie uitslag ongesaghebbend en irrelevant, aangesien enigiemand enige aantal kere vir die berg kon stem en stemme boonop geld gekos het. (Met genoeg geld sou iemand immers netsowel die mynhope by Kathu as internasionale natuurwonder kon verklaar.)
’n Mens sou die hele gedoente seker net daar kon laat en bloot jou kop skud vir die armsalige siele wat miljoene rande via MXit en SMS gespandeer het – mits die proses so skadeloos soos, sê, Idols was. Dis nie onwettig om geld uit mense se onkunde te maak nie en morele argumente oor dinge waarvoor die geld beter aangewend kon word, hou in elk geval nie oral water nie.
Uit stories wat in ander lande begin opduik het, blyk dit egter dat die Suid-Afrikaanse regering en plaaslike belastinggeld betrokke kan wees.
Wat min mense van hierdie kwaksalwery weet, is dat deelnemende lande, buiten vir ’n administratiewe fooi van $199, glo ook aangemoedig is om groot, bykomstige bedrae geld aan die organiseerders te betaal ten einde ’n “kompeterende kans” te staan.
Presies hoeveel lande voor hierdie bedrae geswig het, is onduidelik. Dis wel reeds bekend dat Thoyyib Mohamed, Minister van Toerisme, Kuns en Kultuur van die Maledive, sy land uit die kompetisie onttrek het nadat die volgende “fooie” van hulle gevra is deur die organiseerders:
* ’n Sogenaamde lisensiefooi vir ’n “platinumborgskap” van $350 000.
* Twee “goue lisensiefooie” van $210 000.
* Die volledige borg van ’n afvaardiging se besoek aan die Maledive tydens ’n wêreldtoer, waartydens hulle verblyf, vervoer, akkomodasie en ander onkoste deur die staat gedek sou word.
Hul lugrederye is ook versoek om $1 miljoen te betaal vir die voorreg om die New7Wonders-embleem op hul vloot te mag aanbring en telekommunikasiemaatskappye is $1 miljoen elk gevra alvorens hulle munt kon slaan uit burgers se herhaaldelike stempogings.
Kort op die Maledive se hakke het die Indonesiese minister van Kultuur en Toerisme ook bekendgemaak dat New7Wonders gedreig het om Indonesië van die finalistelys te skrap indien die land nie ’n “lisensiefooi” van $10 miljoen aan die organiseerders betaal nie. Hulle moes boonop aanhoor dat hulle ’n seremonie ter waarde van $35 miljoen moet hou indien hulle wen.
Toe die Indonesiese ministerie ’n brief aan New7Wonders gestuur het om meer uit te vind, het die Sweedse poskantoor dit teruggestuur. Die adres het klaarblyklik nie bestaan het nie.
Wat beteken dit vir Suid-Afrika?
Te oordeel aan die manier waarop nasionale radiostasies voorbrand gemaak het vir mense om spesifiek per SMS te stem, sal ek nie verbaas wees as al wat ’n selfoonnetwerk in Suid-Afrika is die beweerde $1 miljoen aan New7Wonders betaal (en veel meer geïn) het nie. Die feit dat baie van hierdie stasies staatseiendom is, laat ’n mens wonder presies wie munt uit hierdie stemmery geslaan het.
Die talle radiostasies in staatsbesit het die afgelope weke meedoënloos ’n refrein herhaal wat plegtig belowe het dat “elfduisend werksgeleenthede” geskep sal word indien Tafelberg wen en dat dit “miljarde rande” vir die Wes-Kaapse ekonomie sal beteken. Retrospektiewe navorsing oor ’n vorige ronde van hierdie kompetisie in 2007 het egter reeds aangetoon dat die wenlande nie ’n toename in toerisme-inkomste gesien het sedert hulle as wonder-eienaars verklaar is nie. Ek het ’n spesmaas dat ’n soortgelyke studie oor die volgende paar jaar boekdele sal spreek.
Dit was uiters onverantwoordelik om sulke beloftes te herhaal in Suid-Afrika – ’n land waar tot die president onlangs moes erken dat die regering se teiken vir werkskepping nie gehaal sal word nie. Die onlangse bekragtiging van die gebruikersbeskermingswet beteken trouens dat dit potensieel onwettig was om hierdie bewerings te maak. As die beloofde werksgeleenthede en toerisme-inkomste nie in die komende jare gaan kristalliseer nie, is daar lekker vir stemvee gejok oor wat hul transaksies tot gevolg sal hê.
Die hele land sou die staat dan tegnies voor die hof kon daag.
Dis nie die wapenskandaal nie, maar ek sal graag wil weet hoeveel geld New7Wonders die Suid-Afrikaanse regering uit die koffers gejaag het, hoeveel miljoene na afloop van die kompetisie (as ’n mens dit so kan noem) in Telkom / 8ta (39% daarvan is immers in die staat se besit) se sakke is, wie Suid-Afrika se deelname hieraan goedgekeur het en hoekom hulle dit gedoen het om mee te begin. Ek wil ook bitter graag weet of daar binnekort ’n seremonie ter ere van Tafelberg se nuutste akkolade gehou gaan word en wat dit op die ou end sal kos.
Dit verg nie baie dinkwerk om uit te pluis dat New7Wonders ’n geldmaakfoefie is nie. Die stemproses is fundamenteel disfunksioneel, die “maatskappy” wat daaragter sit (New Open World Corporation) het nie eers ’n webtuiste nie en New7Wonders.com verkoop glad personalised voting certificates. Dat intelligente Wes-Kaapse politici soos Patricia de Lille (wat ’n roerende toespraak na afloop van die “oorwinning” gegee het) en Helen Zille hiervoor kon val, moet ’n mens óf terneergedruk óf verdag maak.
Iewers stink iets verskriklik. Al vrae wat oorbly, is hoe groot die karkas is en waar in Suid-Afrika hy lê en vrot.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.