Wie se Afrikaans moet ons red?
2011-11-08 07:31
Die mosie wat Donderdagaand by die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse konvokasievergadering ingedien word, herinner my baie aan ’n Amerikaanse televangelis genaamd Peter Popoff.
Met die skynbare vermoë om boodskappe direk van God af te ontvang, het Popoff groot opslae as geloofsgeneser gemaak in die 1980's. Krukke en pynmedikasie het gereeld tydens sy eredienste deur die lug geklief nadat hy geplaagde individue wonderbaarlik van hul kwale "genees" het. As Tant’-Tollie-met-die-kanker van Beaufort-Wes voor hom in die agste blok se sewentiende ry in sy megakerk gestaan het, het Popoff op magiese wyse geweet sy heet Tolie, sy kom van die Karoo af en sy ly aan kanker. Dit natuurlik sonder dat sy ’n woord hieroor aan hom gerep het.
Hy het stinkryk geraak (op die apogee van sy loopbaan het hy $4.3 miljoen per maand verdien), maar het homself skielik in 1987 bankrot verklaar. Die rede? Ene James Randi het suksesvol bewys dat Popoff nie met God gepraat het nie. Sy vrou het bloot kaartjies met gebedsversoeke vir hom via ’n radiosender voorgelees. ’n Onopsigtelike ontvangstuk in sy oor was al wat nodig was om miljoene mense te oortuig dat hy hulle met geloof genees het.
Popoff het baie oor God gepraat, maar op die ou end was sy mooi broodjies oor die deugde van geloof nie veel meer as ’n veinsery nie. Die les wat ’n mens hieruit leer, is natuurlik dat almal wat iets oor God te sê het nie noodwendige goedaardige bedoelinge het nie.
Ek twyfel of die “besorgde jonger geslag Maties” wat die mosie Donderdagaand by die konvokasievergadering gaan indien se motiewe hoegenaamd so suiwer is as wat hulle voorgee. En voor ek voortgaan, eers ’n ou disclaimertjie (Engels sê dit tog so mooi): ek is self ’n oud-Matie en daarom ook ’n lid van hierdie konvokasie. Ek is lief vir Afrikaans en wil ook nie hê dat Afrikaans as akademiese taal verdwyn nie, maar sukkel om myself te vereenselwig met die manier waarop hierdie jongmense blind vir die werklikhede om hulle is.
Ten beste, dink ek, is hulle interpretasie van die feite rakende die Afrikaanse onderrigaanbod by Stellenbosch net so wankelrig soos dié van die ringkoppe wat hulle die afgelope klompie jare voorafgegaan het.
Die stelling wat dikwels in die sogenaamde taaldebat gemaak word, is dat Afrikaanse onderrig by Stellenbosch agteruitgaan. Hierdie standpunt word altyd gestaaf met syfers (sien byvoorbeeld hoofstuk ses van hierdie verslag) wat aantoon hoe Afrikaanse onderrig die afgelope tyd gedaal het. Die gevolgtrekking wat altyd hieruit gemaak word, is dat hierdie daling die universiteit se doelbewuste en kwaadaardige toedoen is.
Die ongegronde aanname waarop hierdie gevolgtrekking rus, is dat die meeste Wes-Kaapse studente óf wit óf bruin is en daarom almal Afrikaanse onderrig verkies. Juis hierom, word daar geredeneer, volg dit outomaties dat die afname in Afrikaanse klasse weinig met die studente te make het (hulle verkies tog Afrikaans!). Dis egter ’n wankelrige aanname, aangesien daar nie regtig enige data is om dit mee te staaf nie en dit boonop baie liberaal met die begrip “Afrikaans” omgaan.
Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: wanneer hierdie “besorgde Maties” aan Afrikaans dink, dink hulle nie aan die taal wat in plekke soos Mitchells Plain, Manenberg en Bonteheuwel gepraat word nie. Hulle mag dalk so sê (hulle glo dit dalk selfs), maar die geskiedenis weerspreek hulle. Die enigste Afrikaanse onderrig wat nog ooit by die US aangebied is, is onderrig in Oosgrensafrikaans.
Die mense wat sommerso sonder toestemming gekoöpteer word in die stryd teen verengelsing het egter nie ’n strôndhuis by die see nie en verklaar ook nie gereeld kategories (meneer die speaker!) dat hulle ’n môsie wil indien oor die behôud van Afrikôôns as verstekopsie by die universitaait van Stellenbôsch nie.
Hierdie mense praat ’n variant van Afrikaans wat vreemd op die oor sou val vir die meeste van die beswaardes. Trouens, die taal wat hulle van kindsbeen af aangeleer het – die woorde waarin hulle huil en vloek, skater en kuier is al vir soveel jare die teiken van stereotipes, van hovaardige grappies, van holier than thou beskuldigings van kommin- en laerklas-wees dat geen mens in sy nugtere verstand daarmee sal wil identifiseer wanneer die tyd vir hom of haar aanbreek om tersiêre onderrig te ontvang nie.
Dis nie asof “Afrikaaps” een van die opsies tussen die blokkies langs “huistaal” op die aansoekvorms is nie, is dit?
As die beswaardes regtig lief is vir Afrikaans, sal hulle nie meganies aandring dat die universiteit 100% van sy klasse daarin aanbied nie. Behalwe dat dit dui op uiterse naïwiteit oor hoekom die syfers wat so gereeld aangehaal word, lyk soos wat dit lyk, getuig dit ook van ’n beterweterige soort paternalisme waarvoor daar geen plek in ’n akademiese omgewing kan wees nie.
Nee, as die beswaardes werklik lief is vir Afrikaans, sal hulle ophou om didaktiese demone soos wafferse televangeliste op te roep en eerder die sosio-ekonomiese werklikhede wat oral om hul soos ’n seer vinger uitstaan, begin erken. Hulle sal ophou aandring op die voortgesette bevoorregting van ’n steeds bevoorregte klas, hand in eie boesem steek en eerder begin wonder hoekom al hoe minder mense klas in Afrikaans wil loop om mee te begin. Hulle sal harde data insamel en ordentlike gevolgtrekkings maak wat nie deurweek is van agendas nie.
And then they shall start making amends.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.