Werklike oplossings ontwyk ons steeds
2013-02-19 07:49
Elke dag op pad huis toe ry ek verby 'n spul renosters op die N2.
Hulle is op die betonversperring naby die afrit Mitchells Plain toe uitgekrap – al honderde van hulle – langs die koue woorde: "312 killed".
Die spannetjie wat dit skoongekrap het, kon nie 'n meer ironiese plek gekies het om dit te doen nie. Skaars 'n paar kilometer in beide rigtings is Khayelitsha, Manenberg, Langa en Nyanga – van die Wes-Kaap se armste en mees gewelddadige woonbuurte.
Kinders word hier (soos elders) verkrag en geslag, maar vir hulle kerf niemand kruisies teen die beton langs die snelweë nie. Vir die kruiskerwers bly hulle naamloos, hul pyn irrelevant en hul lot ongekend.
Hierby het die aktiviste nie net gekies om te betoog vir die welsyn van 'n ander spesie onder die neuse van hul eie spesie nie – hulle het dit op een van die mees oneffektiewe maniere denkbaar gedoen.
Dis te betwyfel of die krusifikse op die N2 intussen iets tasbaars gedoen het om die lewensverwagting van Suid-Afrikaanse renosters op te stoot. 'n Stroper sou seer sekerlik nie daar verbygery en gedink het: "gits, ek moet ophou renosters uitdelg" nie. Pendelaars kon ook nie enigiets meer as 'n warm gevoel in hul binnestes hieruit kry nie.
Die bedoeling is seker goed, maar die hele oefening is in wese nutteloos.
Dit sal onregverdig wees om die kunstenaars te beskuldig van 'n opsetlike poging om renosters belangriker as mense te ag. Hulle is waarskynlik salig onbewus van die ironie van 'n paar honderd kruise vir renosters in die omgewing van misdaadgeteisterde woongebiede.
Soos die middelklas waartoe hulle vermoedelik behoort, sien hulle nooit die krotbuurte nie, brand hul huise selde af, bring hul krane water voort en spoel hul toilette met reëlmaat. Wanneer hulle die luuksheid van tyd het om iets beter te maak, kies hulle om dit te verspil op goedbedoelde, maar uiteindelik futiele oplossings vir afgeleë probleme.
Op hierdie manier kry 'n mens gemeentes wat sendelinge die wêreld oor rondstuur om skole, kerke en ander fasiliteite te bou, kos te gee en mense op te voed, terwyl hul eie landsburgers self nogal graag in beter omstandighede sou wou woon, eet en leer.
Jy kry 'n spul goed bedoelde maar uiteindelik meerderwaardige pogings om Kony hok te slaan, aanlynpetisies teen verkragting en gekleure strikkies wat elke siekte denkbaar verteenwoordig sonder dat Kony in werklikheid gefnuik word, verkragtings werklik gestuit word of sterftesyfers afneem.
Jy kry kwaai briewe in dagblaaie oor die nuusredakteur van Die Kerkbode en gespreksonderwerpe by die Woordfees asof dit die allerbelangrikste kwessies onder die son is: belangriker as verkragtings in Nyanga, moord in Manenberg of roof met verswarende omstandighede in Mitchells Plain.
En hoewel daar seker niks boos aan kwaai briewe, petisies, strikkies en buitelandse welsyn is nie, verander dit nie veel daaraan dat ons heelwat minder voor ons eie stoep vee as wat ons sou kon nie en dat Suid-Afrika ook nie juis ’n oorvloed tweede kanse het om reg te ruk wat tot dusver verbrou is nie.
Krusifikse bring nie renosters terug nie, maar dit bou ook nie skole nie.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.