Wáárom word DA as antwoord beskou?
2012-11-29 07:49
As jy gewonder het wat die politieke affiliasie van die gemiddelde Rapport-leser is, bied hul verslaglewering oor die DA se pas afgelope federale kongres dalk 'n leidraad.
"DA kán wen in 2014", heet ‘n berig waarin lesers getrakteer word op brokkies skindernuus oor hoe die kongres se akkreditasieproses "pynloos" was, hoe die program "soos 'n skouspel" afgeloop het en hoe Mmusi Maimane, DA-woordvoerder, toegejuig is en deur kongreslede met Barack Obama vergelyk is. Ons leer dat Maimane rollende handbewegings op die verhoog gemaak het en dat DA-lede plakkers van hul gunstelingkandidate gedra het.
Aardskuddende feite, dus.
Vergelyk 'n mens Rapport se berig met dié van ander koerante (sien byvoorbeeld Daily Maverick, IOL en City Press), is dit opmerklik hoe laasgenoemde moeite doen om op onderwerpe soos toekomstige verkiesings en nuut aangewese leiers te fokus en dit sinvol vir lesers probeer interpreteer. Rapport, daarenteen, se fokus is grootliks daarop dat alles vet pret was en dat die DA 'n kans staan om Gauteng by die ANC te steel.
Hiermee skort seker niks nie. Dis 'n vry land met 'n vry pers en dit staan enigiemand vry om enigiets oor enige party te skryf. My raaiskoot sou wees dat dit in ieder geval die soort goed is wat Rapport se teikenmark wil lees. Dis duidelik 'n aanduiding van díe se politieke voorkeure.
Dis ongelukkig ook 'n aanduiding van hoe min mense oor hul politieke keuses nadink.
As jy DA-ondersteuners ken, doen jouself 'n guns en vra hulle presies waarom hulle die party ondersteun. Ek sal verbaas wees as jy 'n breedsprakige uiteensetting van die DA se geskiedenis, hul effektiwiteit, hul beloftes en hul beleide kry.
Wat 'n mens in my ervaring veel eerder by ondersteuners teëkom, is 'n storie oor die ANC. 'n Storie waarin die land regeer word deur 'n spul korrupte vet katte wat die soustrein ry en net mooi niks vir hul stemvee voel nie en waarin die enigste uitweg uit hierdie nagmerrie is om die DA in die Uniegebou te kry.
Eersgenoemde deel van die storie het natuurlik groot dele van die waarheid beet, maar niemand wonder oënskynlik ooit oor laasgenoemde nie. As dit nie gesubstansieer kan word nie, kom dit sekerlik op 'n non sequitur neer?
Die verstekantwoord wat ek by DA-ondersteuners kry, is: kyk net hoe goed doen hulle in die Wes-Kaap!
Inderdaad. Kyk net hoe goed doen hulle in die Wes-Kaap. Kyk hoe luuks is dit in Atlantis waar daar nie werk is nie. Kyk hoe heerlik is dit in Gugulethu waar daar jaarliks met reëlmaat meer as 100 mense vermoor en bykans 200 mense seksueel aangerand of verkrag word. Kyk hoe vreedsaam is dit in Manenberg waar dwelmverwante misdade binne agt jaar met 600% toegeneem het. (En kyk hoe lekker is dit in die voorstede!)
Die einste provinsie waar Helen Zille self 'n pleidooi gelewer het vir bystand van die weermag en waar wingerde en winkels skaars 'n paar weke gelede gebrand het, loop volgens DA-ondersteuners seepglad.
Die party se steun neem bestendig toe. As hulle hul kaarte reg speel, sou hulle die land wel eendag kon regeer. Of dit egter ’n goeie ding is, weet ek nie. Tot dusver kon ek geen DA-ondersteuner opspoor met 'n substansiële argument ten gunste van die party se heerskappy nie. Min doen die moeite om hul beleide fyn te kam met 'n kritiese oog, of om hulself in die spieël te bekyk en te vra: "self, sal die DA se neoliberale ekonomiese beleide enigiets positief aan Suid-Afrika se strukturele ongelykheid doen?"
Maar, hei – wie wil dan tog nou hieroor nadink as jy rollende handbewegings kan maak en plakkers kan dra?
- Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.