Vrou, of voorwerp?
2013-02-14 08:33
Suid-Afrika is 'n vreemde plek.
Mans trek soggens 'n broek, 'n hemp en skoene aan. As hulle regtig netjies wil lyk, knoop hulle 'n das om hul nek, skeer en masseer haarjel deur hul hare.
Vrouens het dit so 'n bietjie moeiliker. Hulle moet ook gepaste uitrustings kies, maar moet hierby hul gesigte poeier en pleister met rome, onderlaag, blosser, oogskaduwee, maskara en lipstiffie. Hul hare moet noukeurig met 'n verskeidenheid implemente gestileer word. Hul bene moet liefs nie stoppels vertoon nie en word daarom skoon geskeer.
Dogtertjies leër hierdie rituele van kindsbeen af aan. Terwyl seuntjies aangemoedig word om hul motoriese vaardighede te ontwikkel, raaisels op te los en aktief met die wêreld om te gaan, word dogtertjies geleer dat die wêreld na hulle kyk en hulle daarom altyd op hul beste moet lyk.
Vir 'n seuntjie sê Suid-Afrikaners alte graag: "maar jy's slim, né!", of: "sjoe, maar jy's sterk!". Vir 'n dogtertjie verkies ons: "aitsa, kyk net hoe mooi is sy"! of "wat 'n pragtige rokkie!".
Seuntjies raak onderwerpe. Dogtertjies raak voorwerpe.
Seuntjies word geleer dat hulle alles van belang in die samelewing doen. Hulle resiteer die tafelgebede. Hulle bestuur die karre. Hulle speel die nasionale sporte. Hulle win die brood. Hulle lei die politieke partye. Hulle preek in kerke, moskees en sinagoges.
Seuntjies raak agente. Vrouens raak liggame.
Wanneer hulle na jare se opleiding in voorwerp-wees trou, word dogtertjies deur al die gaste by hul bruilof herinner aan hoe mooi hulle lyk. Nie hoe slim, vindingryk, spitsvondig, empaties, welsprekend of talentvol hulle is nie, slegs:
"Og, jy lyk beeldskoon!".
Nadat hulle hul lewens lank geleer het dat hulle na waarde geskat sal word op grond van hul vermoë om viets te lyk buite die huis, staan dogtertjies voor 'n godsdienstige figuur (gewoonlik 'n man) en word hulle beveel om onderdanig aan hul eggenote te wees.
Hierdie gedrag beskou ons as normaal en dra ons van geslag na geslag oor aan ons kinders sonder om dit ooit ernstig te bevraagteken.
En dan is ons verbaas as Anene Booysen deur seuntjies verkrag en van kant gemaak word asof sy 'n ding is – 'n voorwerp waaroor geheers kan word, 'n wese wie se wil sekondêr aan dié van die teenoogestelde geslag is; wie se sosiale doel is om 'n opgetooide stuk vleis te wees.
Wanneer seuntjies dogtertjies hanteer asof hul enigste doel in die heelal die bevrediging van seuntjies se giere en fantasieë is, is ons kwaad, hartseer en sommer heeltemal ontnugter.
Ons wonder waar ons die spoor byster geraak het; waar ons ons siel verloor het. Ons wonder wat mense na sulke onmenslike gedrag dryf. Ons luister na dieselfde predikant wat dogtertjies vertel dat hulle onderdanig moet wees wat nou skielik mooi woorde oor liefde en vergiffenis en medemenslikheid praat.
En dan gaan slaap ons.
En dan staan ons op.
En dan trek mans 'n broek, 'n hemp, skoene en dalk 'n baadjie aan en vrouens begin pleister, poeier, room, onderlaag, blosser, oogskaduwee, maskara, lipstiffie, tease, blaas, krul, pluk en pas.
Suid-Afrika is 'n vreemde plek.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.