Vir wat wil almal so larnie wees?
2012-01-31 07:43
Nou die dag by 'n vulstasie knoop ek 'n gesprek met 'n petroljoggie oor sy bankrekening aan.
Ons was besig om my geld elektronies aan die vulstasie oor te dra met een van daai masjientjies wat beter werk as jy hulle hoog in die lug hou, toe ek vir Mario* vra of hy al van banke verwissel het sedert ons laas gesels het.
Nee, hy's nog steeds by gABSA**.
Nou maar hoe dan so?
Eish, man, hy kom net nie by die bank uit nie. Maar hy gaan skuif. Hy gaan nog. Tjek 'it.
Die vorige keer wat ons gepraat het, was Mario vuur en vlam om sy rekening by gABSA te sluit en ’n meer bekostigbare bank te kry. Hy gaan 'n plan maak, seg hy terwyl ek die strokie teken. (Dit sê "Transaction validated by PIN", maar ons maak dubbeld seker.)
Hy betaal gABSA maandeliks so R200 in bankkoste.
Jy moet skuif, Mario. Ek sal jou help.
Ja nee, beslis. Hy moet skuif. Hy gaan sommer môre na hierdie goedkoper bank toe. gABSA het hom vir lank genoeg nou al beroof van sy swaarverdiende geld. Volgende keer as ek kom ingooi, dan't hy geskuif.
Hy het nie.
Op pad van die vulstasie ry ek verby 'n string ommuurde woonstelkomplekse. Hulle is tjok-en-blok vol jong werkendes en klein gesinnetjies. Die verblyfkoste is hoog, maar daar staan "Estate" op die hekke en oral is daar betonstandbeelde van bronstige perde, kabbelende fonteintjies en geboutjies wat antieke Romeinse argitektuur probeer naboots.
Ek dink toe aan 'n gesprek wat ek eenmaal met ou kennisse gehad het. Hoe gaan dit, wou ek weet – wat maak hulle deesdae? Waar bly hulle nou?
Nee, hulle het mos nou die dag daar by Die Huppelende Kersiepit Estate*** ingetrek. Laasgenoemde word mooi luid geartikuleer, net ingeval die besef dat hulle in ’n gebied met baie standbeelde woon nie ten volle by my insink nie.
O?
Ja, dis vreeslik mooi daarso. Mooi en rustig. En 'n estate is mos maar ’n bietjie veiliger as jou normale kompleks, jy weet? Daar’s heeldag sekuriteitswagte aan diens en die mure is geëlektrifiseer. Deesdae weet ’n mens ook mos nooit meer nie.
Hoe’s die huur?
Nee, so ’n bietjie aan die duur kant. Hulle hoes nogal om daar te woon, maar dis dubbel en dwars die moeite werd. Dis hulle klein stukkie paradys!
Miskien moet hulle weer gaan kyk wat 'n estate is.
Dit klink seker na wensdenkery, maar ’n mens kan nie help om te wonder waar Suid-Afrika sou wees as die Mario's van hierdie wêreld die honderde rande wat hulle jaarliks oorhandig aan die gABSAs van hierdie wêreld eerder iewers belê nie. Of as die pseudo-Romeine in hul pseudo-villas die duisende rande wat hulle maandeliks blaas vir die “voorreg” om in klein woonstelletjies te mag woon eerder gebruik om eiendom vir hulself te koop nie.
Duurder banke en woonstelkomplekse maak jou nie ’n beter mens nie. Dit maak jou bloot armer.
Vir wat wil almal so verskriklik larnie wees?
* Skuilnaam
** Skuilnaam
*** Skuilnaam
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.