Vanwaar dié liefde vir die Dalai Lama?
2011-10-11 07:34
Te oordeel aan die reaksie op Sy Heiligheid die Opper-Llama se afwesigheid by Desmond Tutu se 80ste verjaardagpartytjie, sou ’n mens sweer die laaste Suid-Afrikaner het oornag in ’n stoere Boeddhis verander. Altans, so wil dit voorkom uit die landswye protes ná Sy Heiligheid Sy Besoek aan Suid-Afrika gekanselleer het.
Mense was skaam om Suid-Afrikaners te wees. Die ANC-regering, het hulle geweeklaag, is na dese amptelik erger as die NP-regering van ouds. Kyk net hoe pateties lyk ons nou vir die res van die wêreld. Dis ’n nasionale verleentheid!
Voeg hierby die kritiese stemme van bekendes soos Richard Branson en Bono en jy sou sweer die Suid-Afrikaanse regering is niks minder as ’n spul kweselagtige femelaars nie, bloot omdat hulle Sy Heiligheid (wie se visum-aansoek glo ’n rapsie te laat was) soos enige ander normale mens behandel het.
Ek kan begryp dat mense wat agting vir Sy Heiligheid het omgekrap sal raak oor sy afwesigheid – veral as hulle Boeddhiste is. Trouens, ek kan aan geen enkele rede dink hoekom enigiemand verskriklik baie agting vir hom moet hê as dat hulle inderdaad die godsdiens waarvan hy aan die spits staan, navolg nie.
Dis verstaanbaar dat mense sal fulmineer indien een van hul eie te na gekom word. Dis nie verskriklik beleefd nie, maar dis ten minste opreg. Ek mag dalk dink hulle is van hulle koppe af, maar dit sou nie my plek wees om hulle te reg te wys nie.
Ter illustrasie: ek is nie gaande oor die pous nie, omdat hy vir my simbolies van gesistematiseerde seksisme en blinde onkunde is. Daar was nog nooit vroulike geordineerdes in die katolieke geskiedenis nie (dis etimologies onjuis, sien?) en die kerk se leerstellinge verbied dinge soos voorbehoedmiddels en masturbasie. Miljoene mense wêreldwyd – en veral miljoene vroue – is vandag in sielkundige en sosiale kettings weens dié katolieke kerk se greep op hul gedrag.
Ek is van mening dat ’n mens nie individue wat ander se seksuele gedrag tot in die fynste besonderhede wil manipuleer of hul sosiale waarde wil skat op grond van dit wat tussen hul bene hang (of nie hang nie), ernstig kan opneem nie. Ek begryp egter dat my mening hieroor verskil van ander en dat diegene wat wel so wil dink die reg het om dit te doen. Ek het weinig respek vir die pous, maar ek begryp dat miljoene Katolieke wel die wêreld se agting vir hom het.
Net so het ek nie verskriklik baie respek vir die Dalai Lama nie. Ek vind dit vreemd dat mense hom ophemel omdat hy homself in bont lappe drapeer, eteriese wyshede kwytraak en kulkunsies met balletjies deeg kan doen. Ek dink nie hy verdien respek bloot omdat hy aan die spits van ’n bepaalde godsdiens staan nie, maar as miljoene van sy volgelinge omgekrap raak oor hy nie toegang tot Suid-Afrika kon kry nie, is dit seker nie my plek om hulle te reg te wys nie.
Die probleem is natuurlik dat daar nie regtig so baie van sy volgelinge in Suid-Afrika is nie. Trouens, hier is so te sê niemand van hulle nie. Die meeste verontwaardigdes was Christelik, Slams of ongelowig – kwalik mense wat hulself besig hou met karma, reïnkarnasie en die aflegging van begeertes. Tog het die meeste van hulle aangedring dat Binnelandse Sake spoedig ’n spesiale plan moet maak vir Sy Heiligheid. (Nepotisme is skynbaar piekfyn in die oë van die Suid-Afrikaanse publiek – solank dit net vir ooms in helderkleurige lappe beoefen word.)
Óf Suid-Afrika het oornag in ’n spul Boeddhiste verander, óf – soos Chomsky dit so bondig stel: “I won't spell it out.”
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.