Tyd vir herevaluering
2010-03-31 08:06
Dit bly vir my verstommend hoe kerke (veral gereformeerde kerke) dink hulle moet meer lidmate trek om relevant in die Suid-Afrikaanse samelewing te bly. Loop die kerke leeg, is die eerste gevolgtrekking altyd: die kerk doen iets verkeerd. As ons dinge weer anders doen, sal die mense terugkom. Dit is tyd om te vernuwe!
Hierop volg dikwels pogings om kerkbywoning te laat toeneem op die mees skouspelagtige maniere moontlik. Die trekpleister? Daar word tred gehou met die tydsgees: alles omtrent die erediens word opgeskerp en verbeter – of dikwels sommer heeltemal verander.
Daar word van die predikante verwag om beter te preek; van die band om meer intense worship te lewer. Rookmasjiene word geïnstalleer sodat die liturgiese ruimte kan lyk asof dit in kruitdampe gehul is. Daar word ligte gekoop wat sagkens kan verdoof en verskerp. Beter luidsprekers en 'n groter klankbord word geïnstalleer. 'n Kontemporêre erediens word in teenstelling met 'n tradisionele erediens op die been gebring en onder die vaandel van "verskillende spiritualiteite" bestuur. Soms word die preekstoel uitgebreek.
En 'n duisend en tien uitreikaksies word op die been gebring.
En die Powerpoints glimmer soos goue gerubs.
En daar is lofdansers.
En vlae.
En tale.
En die kerk kry 'n Facebook-bladsy. En die kerk kry ‘n jeugwerker. En die koster dra dreadlocks. En alles verander – behalwe die boodskap.
En wat help dit tog?
Wat help dit die kerkbanke kreun weer onder sitvlakke as groot retoriese onderdele van die instansie se kernboodskap nie meer vir mense in die een en twintigste eeu sin maak nie? Wat help dit die lofsang kan jou veters knoop en jou ontbyt vir jou maak as standpunte huldig waarmee 'n toenemende klomp mense nie meer kan identifiseer nie? Wat help dit om elke liewe sosiale tendens slaafs na te volg in die hoop dat soveel moontlik mense op Sondae sal terugkeer om na dieselfde boodskap te luister wat hulle weggedryf het?
Die kerk kan ‘n ongelooflike bate vir die samelewing wees (soos hulle dikwels reeds is). Die blote feit dat hulle mense kan saamsnoer op grond van ‘n verwondering vir die misterie van die menslike toestand en die vreemdheid van die lewe, is iets wat kritici dalk te vinnig vergeet. Boonop verkondig die kerk waardes wat onsettend belangrik is vir enige beskaafde samelewing: naasteliefde. Nederigheid. Verdraagsaamheid.
Bogenoemde is egter nie al wat die instansie vandag waarmerk nie. Daar is ‘n paar netelige (amper primitiewe) idees wat steeds sonder skroom verkondig word – en dít is niks meer as onverantwoordelik is nie. Idees soos:
"Jy is besmet met 'n metafisiese banvloek omdat twee karakters 'n vrug verorber het"
"Ons laat nie mense wat nié van die teenoorgestelde geslag hou in ons ampte toe nie"
"God het karaktertrekke A, B, C en D, sowel as X, Y, Z en ons het sistematies 'n pad na saligmaking uitgepluis wat jy moet loop ten einde eendag nie in 'n warm plek te braai (en sosiaal verworpe te wees) nie?"
"Evolusie is vals! VALS VALS VALS! (Koop my boek)"
Dit is nie juis die soort standpunte wat verantwoordelike 21ste-eeuse landsburgers kan handhaaf nie. Dit is nie die soort idees wat verdraagsaamheid, ‘n kritiese lewensingesteldheid en alles wat daarmee gepaard gaan (soos gehalte onderrig en die verwerping van premoderne lewensbeskouings wat tot vandag toe onder baie Suid-Afrikaners heers) bevorder nie. Dit bring verdeeldheid en pyn, eerder as versoening en heling.
Wat van 'n bietjie meer nederigheid? Dit kan dalk nie soveel lug verplaas soos nuwe luidsprekers nie, maar dit toon ten minste integriteit.
Wat van 'n erkenning dat daar baie dinge is wat die kerk eintlik ook maar nie weet nie? Dat hulle dalk ook verkeerd kan wees? (Dat teïsme eintlik maar net so 'n lomp antwoord op die menslike toestand is as ateïsme?) Dit maak nie atmosferiese rook nie en dit kan nie grappies vertel nie, maar dis ten minste eerlik. Wat van ‘n bietjie meer: “ons is ook soms onseker en wonder soms ook oor die sin van die lewe” en ‘n bietjie minder: “prys my siel, dit is onwrikbaar waar – dit staan so in die Boek!”
’n Herevaluering van die retoriese raamwerk waarop die kerk se kernboodskap rus, eerder as ‘n herrangskikking van lidmate se dankoffers in die vorm van goed wat blink, sal vandag veel meer kredietwaardigheid aan die instansie verleen.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za. Jy kan hom ook volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.