Soveel vrae oor dié sinnelose geweld
2012-08-14 08:21
Wat maak jy met iemand wat iemand anders aan sy baard rondruk, hom met haatspraak uitskel en dan minute aaneen in die gesig skop tot hy in sy eie bloed stik en aan interne bloeding beswyk?
Wat maak 'n mens met polisiebeamptes wat so 'n persoon nie onmiddelik onder arres plaas nie? Wat sê jy vir die mense wat saamgedrom en gekyk het, maar meestal niks gedoen het om die situasie te beredder nie?
Wat gaan deur mense se koppe wanneer hulle hierdie geweld goedpraat met die aanmerking dat twee Moslems kos tydens Ramadaan gekoop het en iets dus nie pluis is nie - so asof Moslems geen selfbeheersing of vooruitbeplanningsvermoë het nie?
Wat laat iemand iets so bloeddorstig aan sy medemens doen? Is dit dieselfde ding wat maak dat iemand 'n aborsiekliniek opblaas, 'n Sikh-tempel met vuurwapens binneval of dosyne tieners by 'n kampterrein met 'n Ruger Mini-14 afmaai?
Is godsdiens die motivering vir sulke gedrag? Is dit wat verlede Maandag se voorval veroorsaak het dieselfde ding wat maak dat mense op kruistogte gaan, bomme om hul lywe hang en vliegtuie in geboue vasvlieg? Is dit vrees wat mense tot sulke geweld stu - vrees vir die onbekende wat lank genoeg gegis het om in haat te verander?
Waarvoor is jy bang as jy iemand met jou skoene doodmaak? Waarvoor en waaragter kruip jy weg? Watter halm is die laaste strooi op jou rug? Wat maak dat jy iemand wat waarde heg aan die manier waarop diere geslag word soos 'n dier vermoor?
Is dit 'n afsku vir andersheid wat iemand so gewelddadig maak? Haat so 'n persoon iets bloot omdat hy dit nie verstaan nie? Laat die dinge wat hy nie ken nie hom bedreig voel?
Hoekom dink hy 'n lid van dieselfde spesie as hy wat dieselfde taal as hy praat en in dieselfde land as hy woon, is anders?
Wie se marionet is hy?
Politici s'n?
Kerkleiers s'n?
Die media s'n?
Sy kinderdae s'n?
Waarom word gays op dieselfde grusame wyse in Suid-Afrika vermoor? Hoekom word lesbiërs in plakkerskampe eers verkrag en dan vermoor? Waarom is daar irrasionele en gewelddadige aanvalle teen Zimbabwiërs, Kongolese en Malawiërs? Hoekom herhaal hierdie patroon sigself keer op keer wanneer mense jaloers, onseker en op soek na 'n sondebok is?
Is daar adjektiewe wat Maandag die 6de Augstus behoorlik kan beskryf? Is "tragies", "hartverskeurend" of "smartlik" sterk genoeg? Kan 'n mens die afgryslikheid van die gebeurtenis behoorlik vasvang deur dit 'n onreg te noem? 'n Gruwel? Sonde? Boosheid? Dierlikheid?
Kwalifiseer so iemand as 'n mens?
Mag 'n mens enigiets anders as vrae en trane hieroor hê?
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.