Só maak Regte Afrikaners
2010-08-13 07:51
Ek het Saterdag by 'n saamtrek van Die Genootskap van Regte Afrikaners beland.
Dit was ‘n triestige dag. Ligte mis het in die voorstedelike strate van Durbanville gehang, met reën wat net-net gedreig het om die entjie van my kar tot by die Genootskap se klubhuis (veilig genestel in ‘n roostuin teen die pad) te versuur. Daar aangekom, is ek hartlik gegroet deur ‘n paar dosyn bejaardes wat rustig koffie en tee op die klubhuis-stoep geniet het.
Ek het eers nie geweet ek is by Die Genootskap van Regte Afrikaners nie. (Ek het nie eers geweet hulle bestaan nog nie.) So tussendeur die koffie en die gesels kon ek egter hoor hoe iemand aan ‘n ouerige oom met ‘n Bybel onder sy arm vra: “en watter gedeelte lees Doktor vandag vir ons voor?” Die oom het paraat iets geantwoord, die vraer het instemmend geknik en ek was dadelik verward.
Ek was immers nie in die roostuin om na Bybelversies te luister nie. ‘n Praatjie oor Afrikaanse streekstaal was veronderstel om daar gelewer te word deur ‘n oud-redakteur van die WAT – iets waarin ek as ‘n oudstudent van Afrikaans belanggestel het. Die bejaarde mense het ek so half verwag, maar die oom met die Bybel? Wat op dees aarde het hy daar gemaak?
Hy het geopen met skriflesing en gebed, natuurlik.
Beskut teen die koue in die klubhuis het ons na die Skrif geluister en toe ‘n lied oor die volk, die vlaktes en allerhande dinge wat weerklink deur die ewigheid gesing. Toe trek ons los met die bekende “op berge en in dale”, wat ons eers in Afrikaans en toe in Nederlands gesing het. Handgeskrewe woorde op transparante is vir die doel hiervan met ‘n truprojektor teen die klubhuis se muur vertoon.
‘n Ouerige tannie het ons toe hartlik verwelkom by ‘n byeenkoms van Die Genootskap van Regte Afrikaners (toe weet ek ook waar ek is), om verskoning gevra dat hulle vergeet het om vanjaar Republiekwording te vier, ons daaraan herinner dat sy spesiaal fotostate van die Genootskap se grondwet (geformuleer deur ‘n bekende predikant) afgerol het vir ons om huistoe te vat en skaam-skaam genoem dat hulle ook nou op Facebook is. (Haar kleinkinders het haar gewys hoe.)
Eers toe is ‘n interessante praatjie oor Afrikaanse streekstaal gelewer.
Hierna is daar weer afgesluit met ‘n lied of twee, waarna ons almal plegtig op aandag gestaan het vir die sing van Die Stem se eerste en vierde verse. Voor my het 'n baie ou oom en sy vroutjie, krom van die ouderdom, so regop as wat hulle kon op aandag gestaan.
Ten slotte het ons sop en brood geëet.
‘n Mens sou maklik kon verval in ‘n polities korrekte groef en hierdie dosyn of wat bejaardes se byeenkoms in ‘n klubhuis (genestel in ‘n roostuin) kon afmaak as agterlik, as nie-behorende tot die nuwe Suid-Afrika nie, as ‘n vasklou aan die verlede. (Wie sing nog Die Stem? Wie vier Republiekdag? Wie gebruik nog transparante?)
Tog was hulle skadeloos. Hulle het nie gediskrimineer nie. Hulle was hoflik en netjies geklee en het my nie snaaks aangekyk omdat my jean geskeur was nie. Hulle was opgewonde om my te sien en ek kon ‘n stuk van my eie geskiedenis in hulle sien.
Op ‘n vreemde manier was dit mooi.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.