Rus in vrede, wyse Neville
2012-08-28 22:35
In my honneursjaar was ek bevoorreg om 'n semesterkursus in taalbeplanning by Neville Alexander te loop.
Ek skryf "bevoorreg" nie omdat hy gister oorlede is en 'n mens net mooi dinge oor dooie mense skryf nie. In Neville se geval is dit die beste woord om te gebruik, want Neville was werklik besonders.
Neville het altyd daarop aangedring dat hy nie "Dr. Alexander" is nie. Sy naam, het hy telkemale vriendelik aan ons verduidelik, is "Neville". Vir die meeste van ons was dit maar moeilik om hom so aan te spreek – ons was gewoond aan tersiêre gesagsfigure met titels – en het ons kort-kort gestruikel oor 'n "doktor" of 'n "u" tydens klasgesprekke.
Neville het dan bloot vriendelik geglimlag en herhaal dat ons hom maar "Neville" mag noem.
Sonder om opdwingerig te wees, het Neville sy studente vir hulself leer dink. Hy het bewyse voor ons gesit, maar ons nooit geforseer om iets te glo bloot omdat hy dit gesê het nie. Dié moes ons self besluit. Idees is altyd volgens meriete beoordeel, en Neville sou nie skroom om prontuit in 'n klas met jou te verskil nie – altyd met gestaafde, weldeurdagte stellings.
Tog was Neville nederig. Hy was vriendelik en soms effens skugter. Sy hoflikheid, sy wysheid en sy elegante Afrikaans het sy klasse oortuigend en uiters aangenaam gemaak. Sy hele menswees het van medemenslikheid getuig. 'n Mens kon op die ou end in elk geval nie anders as om deur Neville oortuig te word nie, want daar was geen rede om dit nié te raak nie. Neville was gewoonlik reg.
Dis ironies dat hy oorlede is op dieselfde dag waarop die ANC-jeugliga met Engelse baniere na Kaapstad gemarsjeer het.
Neville, as ek so arrogant mag wees om 'n raaiskoot te waag, sou baie hieroor te sê gehad het. Hy sou daarop gewys het dat hierdie mense se moedertaal nie Engels is nie en dat die toegang na die sogenaamde "means of production" waarop hulle aandring hulle slegs beskore is indien hulle Engels ordentlik onder die knie het. Hy sou op die onhaalbaarheid van 'n eentalige Suid-Afrika wys en die tans betreurenswaardige toestand van moedertaalonderrig uitlig.
Hy sou die jong marsjeerders waarskynlik aanraai om hulself op te voed tot die beste van hul vermoë, om die pen eerder as die swaard in te span en om seker te maak hulle beywer hulle vir 'n ekonomiese en sosiale lewe in die taal waarin hulle gebore is. "Koester jul tale", sou sy raad aan die jeugliga waarskynlik wees: "bou dit uit, sodat dit julle kan uitbou".
Neville sou vir hierdie mense veel meer beteken het as wat demagoë of unieleiers ooit sou kon, maar hulle sou nooit die luuksheid hê om sy woorde in lesinglokale te bepeins of wys te raak uit sy rooi penmerke in hul opstelle nie.
Ons liewe regering wat nou so kniediep in die medelye staan en mooi woordjies oor sy struggle-bydraes uiter, kan gerus hand in eie boesem steek. Die jong mense wat gister met Engelse plakkate rondgeloop het en 'n Engelse memorandum aan die munisipaliteit oorhandig het, sou dit bes moontlik in Xhosa of Afrikaans kon doen indien Neville se kosbare raad aan hulle jare gelede ter harte geneem is.
As daar een oomblik is wat ek nooit sal vergeet nie, is dit hoe Neville kopskuddend, teleurgesteld (en tog steeds met respek) aan ons vertel het hoe die regering vir jare nagelaat het om ag te slaan op sy aanbevelings oor moedertaalonderrig en die beplanning en uitbreiding van inheemse tale. Vir 'n paar sekondes was die andersins opgewekte en hoopvolle man wat dikwels "altemit" en soms "tramma kassie" gesê het, wie se glimlag aansteeklik was en wat werklik, sonder enige postume aansitterigheid, 'n groot gees was, sigbaar moedeloos.
Almal wat hom geken het, sal kan getuig dat Neville Alexander se dood Suid-Afrika vandag armer laat. Ironies, egter, is dat Suid-Afrika vandag armer is juis omdat ons nie na hom geluister het terwyl hy met ons was nie.
Presies vir hoe lank gaan ons nog doof bly?
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.