Retoriek oor plaaswerkers kwel
2013-01-15 07:46
Terwyl stakings opnuut rondom De Doorns woed, is dit vir my veral interessant om die reaksies van 'n verskeidenheid teoloë hierop te lees.
Ek is met 'n hele paar op Facebook bevriend (bless their souls) en hou eintlik nogal van hulle, so ek sal hulle nie direk aanhaal nie, maar die kruks van hul argumente blyk rofweg iets soos die volgende te wees:
"Plaaswerkers kan nie oorleef op die karige minimumloon wat aan hulle betaal word deur gulsige boere nie. Hierdie onchristelik boere buit hul werkers uit wat elke sent verdien waarvoor hulle nou betoog. Dit dui op die gebrokenheid van kapitalisme en die radikale sosiale verandering wat nodig is in Suid-Afrika. Die kerk se missionêre, profetiese roepstem vereis geregtigheid!"
Ek vind hierdie argument uit voeling met die werklikheid.
Ten eerste: dit klink dalk mooi, maar ten grondslag van die retoriek is die idee van werkers as sogenaamde "noble savages" – goedhartige dog primitiewe mense wat nie van beter weet nie, wat bestendig sal arm bly en finansiële opheffing van "beskaafde" mense sal benodig tot hulle sterf.
As werkers byvoorbeeld nie met hul inkomste kan oorleef nie, is die teoloë se eerste argument nie die meer rasionele: "hulle werk dom met die bietjie geld wat hulle het" of "hulle is dom om plaaswerkers te bly" nie, maar bloot: "die boer is gulsig, die werkers verdien meer".
In hierdie wêreldbeskouing skuil 'n siek simbiose waarin werkers verdoem is om perpetueel aan die boer te "behoort", en waarin die boer verplig is om vir hulle te sorg. Plaaswerkers in hierdie beskouing is nie vrye agente wat ekonomiese kontrakte met ander vrye agente sluit nie, maar submense wat soos kinders hanteer moet word en nie rekenskap vir hul aksies mag geniet nie.
Ten tweede laat die teoloë dit na om te noem dat die minimumloon inderdaad net dit is: die minimum. Dit is nie die plafon nie, maar die vloer. Boere, nes ander werkgewers, moedig werkers op verskeie maniere aan om betyds op te daag vir werk en so produktief moontlik te wees. Een hiervan is om deeltydse arbeiders op die basis van 'n glyskaal te vergoed vir hul uitsette: hoe meer hulle pluk, ploeg en melk en hoe gereelder hulle opdaag, hoe meer word hulle betaal.
Ten derdens veronderstel die teoloë, soos die stakers, dat boere die skuld vir laasgenoemde minimumloon moet kry. Hierdie logika resulteer in brandende wingerde, beskadigde toerusting en plakkate waarop boere direk aangespreek word asof hulle vir werkers se leed verantwoordelik is.
Die realiteit is egter dat boere nie parlementslede is nie en daarom nie minimumloonwette kan ratifiseer nie. Dit is nie boere nie, maar die huidige ANC-regering wat die lae bedrag van R69 per dag goedgekeur het.
Laastens impliseer die teoloë se profetiese argumente dat 'n boer 'n wit mens is, dat werkers swart mense is en dat die stakings niks meer as 'n stryd teen wit uitbuiting en oorheersing is nie. Dit is egter onakkuraat.
Terwyl die meerderheid boere uiteraard steeds wit is, is dit ook 'n feit soos 'n koei dat daar landswyd 'n groeiende getal swart boere is wat net so hard - indien nie harder nie – deur landboustakings getref word. (In Desember verlede jaar het 14 SEB-landbouprojekte in die Wes-Kaap byvoorbeeld meer as R8 miljoen se skade gely.)
The road to hell is paved with good intentions. Hulle bedoel waarskynlik goed, maar ek vermoed dit sal beter wees as kerklui hul profetiese stem maar eerder elders laat geld – of ten minste eers die moeite doen om na die data te kyk voor hulle keel dik maak.
Dapper opmerkings sonder 'n anker in realiteit kan gevaarlik raak.
– Johan Swarts is 'n skrywer en vervaardiger. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za, en jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.